Die “betaal nou, argumenteer later” reël wat vervat is in Afdeling 164 van die Wet op Belastingadministrasie, 28 van 2011, vereis van belastingbetalers om enige belasting verskuldig in terme van ‘n belastingaanslag te betaal, ongeag of die betrokke belastingaanslag deur die belastingbetaler betwis word. Met ander woorde – en soos die naam voorstel – selfs waar die SAID ‘n foutiewe aanslag aan ‘n belastingbetaler uitgereik het, moet die belastingbetaler steeds die belasting soos in die aanslag gereflekteer, betaal en kan hy eers ‘n terugbetaling van daardie bedrag eis wanneer die fout reggemaak is. Vanselfsprekend is dit knellend vir belastingbetalers en kan dit kontantvloei ernstig benadeel, selfs in die geval waar die belastingbetaler nie die fout gemaak het nie, of waar die relevante feite verkeerdelik deur die SAID geïnterpreteer is.
Afdeling 164 bied egter wel ‘n beperkte vorm van kwytskelding, en belastingbetalers mag die opskorting van die betaling van ‘n belastingaanslag versoek in afwagting op die beslegting van ‘n dispuut. Die bepaling maak voorsiening daarvoor dat die betaling van belasting deur die SAID opgeskort mag word nadat die volgende faktore oorweeg is:
- of die verhaling van die belasting wat ter sprake is, in gevaar is en of daar ‘n risiko van verdwyning van bates kan wees;
- die nakomingsgeskiedenis van die belastingbetaler by die SAID;
- of bedrog prima facie betrokke is by die oorsprong van die dispuut;
- of betaling van die belasting onherstelbare teenspoed aan die belastingbetaler sal besorg wat nie geregverdig is deur die vooroordeel teenoor die SAID of die fiscus indien die belasting wat betwis word nie betaal of verhaal word nie; en
- of die belastingbetaler voldoende sekuriteit vir die betaling van die betwiste belasting voorsien het en aanvaar dat dit in belang van die SAID of die fiscus
Desnieteenstaande die bogenoemde mag die SAID ‘n versoek tot opskorting van ‘n belastingbetaling weier of ‘n besluit om betaling op te skort, herroep indien hy tevrede is dat:
- nadat die beswaar of appèl aangeteken is, die beswaar of appèl onbenullig of kwelsugtig is;
- die belastingbetaler die beswaar of appèl as vertragingstaktiek gebruik;
- wanneer verdere faktore oorweeg word, die opskorting nie toegestaan moes gewees het nie; of
- daar ‘n wesenlike verandering plaasgevind het rakende enige van die faktore waarop die besluit om die betaling van die relevante bedrag op te skort, gebaseer was.
Wat min mense besef, is dat bloot die indiening van ‘n versoek tot die opskorting van ‘n belastingbetaling die SAID verhoed om stappe te neem om die relevante bedrag te verhaal totdat die versoek tot opskorting van ‘n betaling deeglik oorweeg is (aansoeke word gewoonlik oorweeg deur ‘n aangewese komitee binne die SAID). Slegs wanneer sodanige aansoek oorweeg en geweier is, mag die SAID verhalingsprosedures instel binne 10 dae na die besluit om nie die relevante versoek toe te staan nie. Dus word die opskorting van ‘n betaling effektief verkry deur die indiening van ‘n aansoek, en word die status quo slegs beïnvloed sodra die SAID die belastingbetaler andersins in kennis stel nadat hy die aansoek deeglik oorweeg en die nodige aandag daaraan geskenk het.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)