Aan die einde van Augustus 2020 was ‘n groot kredietburo in Suid-Afrika die teiken van ‘n data-inbraak waartydens miljoene privaat datarekords van individue en maatskappye gekompromitteer is. Sulke data-lekkasies, tesame met die belastingindiening seisoen, bied die ideale geleentheid vir die misbruik van belastingbetalers se inligting en kan lei tot moontlike finansiële verlies. Die inherente kwesbaarheid van belastingbetalers se onderhandelinge met die SAID en die algemene vrees vir die belastingproses is die swendelaar se brood en botter – en hulle weet hoe om daarop munt te slaan.
Alleenlik in Augustus 2020 is die volgende bedrog-pogings geïdentifiseer, waar korrespondensies skakels na phishing-webwerwe bevat het:
- SAID eFiling, ‘n rekeningstaat is uitgereik – 19 Augustus 2020
- Korrespondensie vir u aandag – 17 Augustus 2020
- Oudit-SMS – 13 Augustus 2020
- Aanlyn fondse aflossing – 11 Augustus 2020
- Krediet Erkenning – 7 Augustus 2020
Baie bedrieërs maak ook gebruik van die indieningseisoen en tree op as belastingpraktisyns om sensitiewe inligting, insluitend bankbesonderhede, te bekom. Onthou dat alle belastingpraktisyns wat vergoeding vir hul dienste vra by ‘n gereguleerde beheerliggaam geregistreer moet wees. (Jy kan die besonderhede van enige praktisyn hier verifieer: https://secure.sarsefiling.co.za/TaxPractitionerQuery.aspx).
Die SAID verskaf die volgende riglyne vir korrespondensie wat voorgee om van hulle afkomstig te wees:
- Moenie e-posse van onbekende bronne oopmaak of daarop reageer nie;
- Pasop vir e-posse wat persoonlike-, belasting-, bank- en eFiling-besonderhede aanvra (insluitend intekeningbesonderhede, wagwoorde, PIN-kodes, krediet-/debietkaartbesonderhede, ens.);
- SARS sal nooit jou bankbesonderhede versoek in enige kommunikasie wat jy per pos, e-pos of SMS ontvang nie. Met telefoniese kommunikasies sal die SAID wel sekere inligting moet verifieer vir identiteitsbevestigings. Dit is belangrik om te onthou dat die SAID geen hiperskakels na ander webwerwe stuur nie, selfs nie banke nie;
- Pasop vir onwaar SMSe;
- Die SAID stuur nie *.htm- of *.html-aanhangsels nie; en
- Die SAID sal nooit u kredietkaartbesonderhede aanvra nie.
Die SAID het ook ‘n fasiliteit beskikbaar gestel waar swendelary of phishing aangemeld kan word. Belastingbetalers kan óf ‘n e-pos na phishing@sars.gov.za stuur, óf die SAID se Teenkorrupsie en Bedroglyn op 0800 00 2870 te skakel.
Alle belastingbetalers word versoek om waaksaam te wees gedurende die indieningseisoen – sorg dat jou data beskerm word.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat spruit uit die vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd u adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings is uitgesonder (E&OE).