DTVDH

Baie mense sou in die nasionale media kennis geneem het dat die Wysigingswet op Belastingadministrasiewette, 16 van  2016, op 11 Januarie 2017 deur President Zuma onderteken is. Een van die baie veranderinge wat die Wet invoer is die intrekking van par. 11C  van die Vierde Skedule tot die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962. Die bepaling word met ingang 28 Februarie 2017 ingetrek. Dit beteken dat ‘n nuwe werkswyse vir die aftrekking van LBS van direkteure se vergoeding van toepassing is op die 2018-belastingjaar wat op 1 Maart 2017 ‘n aanvang neem.

Die intrekking stel ‘n nuwe bedeling in vir die berekening van werkgewers se aanspreeklikheid om maandeliks LBS met betrekking tot die vergoeding wat aan direkteure betaal is, oor te betaal. (Daar moet in gedagte gehou word dat lede van beslote korporasies ook  geag word vir LBS-doeleindes direkteure te wees, dus sal dieselfde reëling vanaf 1 Maart  geld vir die vergoeding wat aan lede betaal word.) Dit is ironies dat die “nuwe”bedeling wat nou op direkteure se vergoeding van toepassing is, dieselfde is wat wat nog deurgaans  op “gewone” werknemers van toepassing  is. Daar kan dus gesê word dat die twee bedelings nou in ooreenstemming met mekaar gebring is.

Die doel met par. 11C was om voorsiening te maak vir die unieke omstandighede met betrekking tot direkteure se vergoeding waarvolgens direkteure se werklike vergoeding dikwels inkonsekwent  was en neergekom het op ad hoc-betalings waarop van tyd tot tyd besluit is en goedgekeur is.[1]  Die beleid was dus om LBS te bereken op ‘n veronderstelde bedrag wat in die algemeen bereken is met verwysing na die werklike direkteursvergoeding wat in die vorige jaar van aanslag uitbetaal is.

Dit lyk egter of met die inwerkingstelling in 2013 van artikel 7B  van die Wet op Inkomstebelasting (wat handel oor “veranderlike vergoeding”[2]), beleid in hierdie verband deur die Nasionale Tesourie aangepas is. As “gewone” werknemers op deurlopende grondslag verantwoordelik is vir die betaling van LBS op veranderlike vergoeding (ook inkonsekwent), sou die noodsaak om te onderskei tussen werknemers en direkteure wegval en sou daar geen beleidsoorweging bestaan waarvolgens daar onderskei moet  word tussen toepassing van LBS op veranderlike vergoeding ontvang deur werknemers  in vergelyking met direkteursvergoeding nie.

Die verwysing na artikel 7B is slegs relevant ten einde die beleidsverandering te verduidelik. Dit is egter belangrik om te begryp dat direkteursvergoeding waarskynlik nie ‘n deel sal vorm van “veranderlike vergoeding” soos  gedefinieer in artikel 7B nie en daarom kan daar nie rekenskap van LBS  gegee word slegs op grond van werklike betaling nie. LBS moet bereken en oorbetaal word wanneer vergoeding ‘n werknemer toeval (met die uitsondering van veranderlike vergoeding) en eweneens nou ook vir direkteure. Dit sou gebeur wanneer die werknemer of direkteur geregtig word op vergoeding en nie eers wanneer die bedrae daarná ontvang word nie (soos wat die geval sou wees met veranderlike vergoeding waarvoor in artikel 7B voorsiening gemaak word.)

[1] Kyk LBS Interpretasienota 5 (Uitgawe 2) wat nou ge-argiveer is.
[2] ‘n Term wat in artikel 7B van die Wet op Inkomstebelasting gedefinieer word.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X