‘n Onlangse beslissing het belangstelling gewek in die kwessie of belastingbetalers wat in gebreke bly om die korrekte bedrag aan BTW oor te betaal, bo en behalwe ander statutêre misdrywe wat deur die Wet op BTW, 89 van 1991, voorgeskryf word, ook van gemeenregtelike diefstal aangekla kan word.
In Director of Public Prosecutions, Western Cape v Parker[1] het die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) geappelleer teen ‘n beslissing van die Wes-Kaapse Hoë Hof dat Parker, in sy hoedanigheid as alleenverteenwoordiger van ‘n beslote korporasie, nie gemeenregtelike diefstal gepleeg het in verband met die wederregtelike toe-eiening van BTW wat deur die beslote korporasie verskuldig en betaalbaar was aan SAID nie. (Parker is vroeër in die Bellville-Streekhof skuldig bevind aan gemeenregtelike diefstal en gevonnis tot tronkstraf van vyf jaar, teen welke skuldigbevinding hy by die Hoë Hof geappelleer het.)
Die Appèlhof het die appèl van die DOV in verband met die aanklag van gemeenregtelike diefstal en die wederregtelike toe-eiening van BTW wat aan die SAID verskuldig was, verwerp. In wese sou die DOV, ten einde met die appèl te slaag, moes aantoon dat die geld wat nie aan die SAID oorbetaal is nie, wetlik geld was wat ontvang en gehou is deur BTW-ondernemers as agente van of in trust namens die SAID, d.w.s. dat die SAID eienaarskap van die fondse gevestig het nog voordat dit oorbetaal is. Die hof het bepaal dat daar geen verhouding vasgestel kon word waarkragtens verskuldigde BTW-bedrae deur BTW-ondernemsers ontvang en gehou is voor die oorbetaling daarvan aan die SAID nie. Met ander woorde, die DOV kon nie aantoon dat Parker eiendom wat aan ‘n ander behoort wederregtelik toegeëien het nie – ‘n noodsaaklike element van gemeenregtelike diefstal wat teenwoordig moet wees vir skuldigbevinding.
BTW is ‘n belasting in die ware sin van die woord: geld wat van klante ontvang is, behoort aan die belastingbetaler. Slegs wanneer die geld aan die SAID oorbetaal is, word dit die eiendom van die SAID. Selfs wanneer die BTW wat ter sake is betaalbaar word, skep sodanige verpligting nie per se vir die SAID eiendomsreg oor die fondse nie. Weliswaar het die SAID ‘n wetlike aanspraak op ‘n bedrag geld verskuldig deur ‘n belastingbetaler maar daar kan nie gesê word dat die SAID ‘n reg op eienaarskap gevestig het op enige fondse in die besit van die belastingbetaler nie.
Daar moet op gewys word dat Parker slegs teen sy skuldigbevinding op ‘n aanklag van gemeenregtelike diefstal geappelleer het. Hy is ook deur die Streekhof skuldig bevind aan die misdade waarvoor voorsiening gemaak word in die Wet op BTW [artikel 28(1)(b) gelees met artikel 58(d)] waarteen hy nie geappelleer het nie. Sy vonnis in hierdie verband – óf ‘n boete van R10 000 óf twee jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vier jaar- is gehandhaaf.
[1] [2015] 1 All SA 525 (SCA)
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)