Telefoniese oudits is besig om toe te neem
“’n Waarsêer waarsku jou teen die ides van Maart”. Hierdie bekende Shakespeare-aanhaling wat vooraf teen die ongeluk van die Romeinse keiser, Julius Caesar, waarsku (wat Caesar uiteindelik geïgnoreer het en gevolglik tot sy dood gelei het) is dalk nie so argaïes soos dit wat dit met die eerste oogopslag voorkom nie – veral nie in die gebied van belasting en wanneer die SAID se nuwe ‘ouditstrategie’ in ag geneem word nie.
In die afgelope paar maande, het ons ‘n aansienlike styging gesien in die SAID wat belastingbetalers direk kontak (selfs met die aanstelling van ‘n geregistreerde belastingpraktisyn of regsverteenwoordiger), hetsy telefonies of per e-poskorrespondensie, om bykomende inligting/bevestigings van die belastingbetaler aan te vra.
‘n Goeie voorbeeld hiervan, geformuleer as ‘n eenvoudige vraag, is wat die belastingbetaler se ‘voorneme’ is met betrekking tot ‘n spesifieke bate, soos wat dit per verklaring aan die inkomste-owerheid uitgemaak is. Hierdie vrae wat deur die SAID gestel word, kan vir die onoplettende belastingbetaler skadeloos voorkom. Telefoniese betrokkenheid sonder dat die regte advies gevolg word, kan egter uiteindelik tot nadelige belastinggevolge vir die hedendaagse Caesar lei.
Hallo SAID, is dit regtig jy?
Die openbaarmaking van persoonlike inligting is altyd iets waarvoor ‘n mens versigtig moet wees tydens telefoniese gesprekke. Selfs geskrewe kommunikasie (soos Cassius se misleiding) is dalk nie so vêr van die huis af nie.
As ‘n eerste aanspreekpunt is daar ‘n sleutelvraag wat by enige belastingbetaler, praktisyn of regsverteenwoordiger in gedagte gehou moet word: is die persoon aan die ander kant van die lyn werklik ‘n SAID-amptenaar, of bloot iemand wat voorgee dat hul is, om sodoende sensitiewe inligting te bekom wat tot nadeel van die belastingbetaler gebruik kan word.
Sonder ‘n skriftelike versoek om inligting op ‘n amptelike SAID-briefhoof of vanaf ‘n amptelike SAID-e-posadres wat met ‘@sars.gov.za’ eindig, is daar geen manier waarop ‘n ywerige belastingbetaler, wat te goeder trou optree, vir seker sal kan weet of hulle inligting openbaar aan die korrekte entiteit nie, en of sodanige persoon nie die inligting met slegte bedoelings sal gebruik nie.
Denkfoute
Wanneer belastingbetalers telefonies gekontak word, antwoord hulle, soos wat die menslike natuur is, dikwels op grond van geheue. Dit is nie altyd heeltemal akkuraat nie en ook nie ‘n volledige uitbeelding van die omstandighede ter sprake nie.
Dit hou die risiko in dat die inligting wat met die SAID gedeel word, om watter rede ook al, nie ‘n ware voorstelling van die belastingbetaler se sake is nie. Dit kan lei tot ‘n verhoogde belastingrekening wat aangevul word met boetes en rente verskuldig as gevolg van die geringste denkfout, waar die skriftelike voorleggings en openbaarmakings nie ooreenstem met die inligting wat telefonies gedeel word nie.
Verder, kan die versuiming om werklik en volledig te antwoord op enige vrae wat deur ‘n SAID-amptenaar aan ‘n belastingbetaler gestel word, ‘n kriminele oortreding wees vir doeleindes van Artikel 234(c)(i) van die Wet op Belastingadministrasie 2011. By skuldigbevinding, kan dit die straf van ‘n boete of ‘n gevangenisstraf van tot twee jaar tot gevolg hê.
Belastingbetalers dra die bewyslas
Daar moet altyd kennis geneem word dat ‘n belastingpligtige die bewyslas moet lewer wanneer dit kom by die openbaarmaking dat ‘n bedrag nie belasbaar is nie, en dus korrek aan die inkomste-owerheid verklaar is.
‘n Belastingbetaler sal geen rekord hê van die inhoud van ‘n oproep nie – en as sodanig geen manier hê om ‘n moontlike misverstand van inligting deur ‘n SAID-amptenaar reg te stel nie. Verder, tensy dit skriftelik aangeteken is, het die belastingpligtige geen manier om die volledigheid van die openbaarmaking in die telefoniese gesprek te bewys nie.
“Hierdie oproep kan opgeneem word vir kwaliteitbeheerdoeleindes”
Dit klink dalk na ‘n verkoopsfoefie, maar die SAID is bekend daarvoor dat hulle hul oproepe aan belastingbetalers opneem om te bewys dat hulle behoorlike gronde het om nuwe aanslae met verhoogde belasting en boetes uit te reik.
Om te help met die invorderingsaksie, kan belastingbetalers seker wees dat die SAID nie net na die belastingbetaler sal luister tydens die oproep nie, maar ook die hele gesprek kan opneem. ‘n Belastingbetaler se versuiming om die inhoud van die telefoniese gesprek behoorlik te herroep, kan ook teen hulle gebruik word (byvoorbeeld om teenstrydighede in inligting wat deur die belastingbetaler gedeel word as regverdiging vir die verhoogde belastingrekening aan te toon).
‘n Vlak van oplossingsgebaseerde denkwyses
Die SAID het hulle vermoë bewys om doeltreffende belastingbetalerdiens aan die belastingbetaler te lewer wat aan vereistes voldoen. Wanneer dit egter selfs by die geringste nie-nakoming kom, het die inkomste-owerheid ‘n ferm, ernstige standpunt ingeneem met min tot geen toegeeflikheid wat getoon word, en pas dieselfde doeltreffendheid hier toe.
In teenstelling met Caesar, moet belastingbetalers ag slaan op hierdie voorafwaarskuwing wanneer hulle telefonies met die SAID in aanraking kom. As ‘n reël, is dit altyd die korrekte benadering om te versoek dat die SAID sy navrae skriftelik aan die belastingbetaler se belasting-/regsverteenwoordiger rig – ongeag hoe oënskynlik onskuldig die vrae mag voorkom.
Dit sal nie net dien om die belastingbetaler te beskerm teen die SAID wat addisionele rente en boetes oplê vir wat ‘n eenvoudige misverstand kan wees nie, maar dit sal ook verhoed dat die inkomste-owerheid invorderingsmaatreëls implementeer en sodoende verseker dat Rome nie ineenstort nie.
Oorspronklike Engelse artikel geskryf deur JASHWIN BAIJOO en NATASHA WILKINSON
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie as professionele advies gebruik of staatgemaak word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak ons vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings uitgesonder (E&OE).