Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat ‘n toenemende aantal oudits deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gedoen word rakende belastingbetalers se verpligtinge in terme van die Wet op Vaardigheidsontwikkelings heffings Nr. 9 van 1999 (VOH-Wet). Die fokus is skynbaar spesifiek op nienakomende belastingbetalers wat versuim om te registreer soos vereis in terme van Afdeling 5 van die VOH-Wet, en vir hierdie werkgewers om dan die vereiste heffing aan die SAID oor te betaal. Die probleem word waarskynlik vererger deurdat die vaardigheidsontwikkelings heffing dikwels deur belastingbetalers as “onbelangrik” beskou word (hoofsaaklik weens die lae koste daarvan vergeleke met, byvoorbeeld, BTW of inkomstebelasting). Nakoming van die VOH-Wet is dus nie ‘n hoë prioriteit vir belastingbetalers nie, met die gevolg dat belastingbetalers ook nie kennis dra van hul regte en verpligtinge in terme van hierdie Wet wanneer hul deur die SAID gekonfronteer word om te registreer en verantwoordelikheid te neem vir hul verpligtinge rakende die vaardigheidsontwikkelings heffing nie.
Die vaardigheidsontwikkelings heffing (VOH) is ‘n heffing op werkgewers wat verplig is om vir VOH te registreer (sien registrasievereistes hieronder). Dit word gehef teen 1% van vergoeding betaal aan werknemers tydens enige maand, wat vergoeding aan direkteure van ‘n maatskappy insluit. Alhoewel direkteure se vergoeding ook onderhewig is aan die VOH moet ons egter nie vergeet nie (veral in die konteks van wat skynbaar die fokus van die SAID se oudits is) dat direkteure se vergoeding uitgesluit word in terme van Afdeling 3(5)(e) van vasstelling of die drempelbedrag van R500 000 bereik is, wat die vereiste is vir registrasie vir VOH-doeleindes (sien Afdeling 4(b)).
Alhoewel die drempelvereistes vir registrasie vir VOH R500 000 se vergoeding ontvang is, soos hierbo genoem, (of redelikerwys aanvaar kan word dat dit in die volgende 12 maande betaal sal word), is hierdie bedrag van R500 000 vasgestel vir privaatmaatskappye sonder oorweging van enige vergoeding betaal aan direkteure. Dus, alhoewel die direkteure se vergoeding onderworpe is aan VOH sodra die maatskappy geregistreer is, word dit geïgnoreer wanneer bepaal word of ‘n belastingbetaler aanspreeklik is en dus vir die VOH moet registreer.
Dit is spesifiek relevant vir KMB’s wat sake doen deur ‘n privaatmaatskappy, veral waar vergoeding grootliks uit direkteure se salarisse bestaan. Die volgende voorbeeld ter illustrasie: veronderstel ‘n privaatmaatskappy betaal salarisse van R400 000 aan niedirekteure en R1 000 000 aan die twee direkteure van die maatskappy gesamentlik. Volgens hierdie gegewens hoef die maatskappy nie vir VOH te registreer en die heffing te betaal nie, want die salarisse van die niedirekteure beloop minder as R500 000. Sou die maatskappy egter salarisse van R600 000 aan niedirekteure betaal, sal die maatskappy vir VOH moet registreer en die heffing van 1% per maand op die gesamentlike vergoeding wat aan alle werknemers (insluitend direkteure) uitbetaal is, moet betaal, ten spyte van die bedrag van die direkteure se vergoeding.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)