Wanneer ’n geregistreerde BTW-ondernemer ’n eiendom verkoop, is die transaksie onderhewig aan BTW, en nie aan hereregte nie. [1] Waar die koper van die eiendom self ’n BTW-ondernemer is, kan insetbelasting geëis word teen die verkrygingsprys wat vir die eiendom betaal is, wat in die meeste gevalle effektief gelyk sal wees aan die BTW wat deur die verkoper-BTW-ondernemer gehef word en dus die verkoper uiteindelik in ’n BTW-neutrale posisie laat, sodra die insetbelasting terugbetaal word.
Waar die koper-ondernemer egter onroerende eiendom van ’n nie-BTW-geregistreerde verkoper koop, is die transaksie nie onderhewig aan BTW nie, maar eerder aan hereregte wat op die koper gehef word, welke hereregte aan die SAID betaalbaar is. Die vraag wat dan dikwels in die praktyk opduik, is of die koper-ondernemer geregtig is om insetbelasting op die verkryging van die eiendom te eis, en of die insetbelastingeis beperk moet word tot die hereregte wat teen die koper-BTW-ondernemer gehef word.
Ingevolge artikel 16(3) van die BTW-wet [2], is BTW-ondernemers geregtig om ’n bedrag van insetbelasting te eis teen bedrae aangegaan om “second-hand goods” van nie-BTW-ondernemers te verkry. In die geval van onroerende goed, is hierdie reël ook van toepassing, en onroerende goed kan ook tweedehandse goedere wees, aangesien dit beskryf word as “… goods which were previously owned and used”. [3]
Paragraaf (b) van die definisie van “insetbelasting” is die toepaslike bepaling wat die relevante BTW-behandeling beheer. As veronderstel word dat ’n verkooptransaksie vir onroerende eiendom tussen ’n verkoper wat nie ’n BTW-ondernemer is nie en ’n BTW-ondernemer-koper, aangegaan word teen oop markwaarde, bepaal die definisie van “insetbelasting” dat die insetbelasting wat deur die BTW-ondernemer geëis word op die verkryging, sal neerkom op ’n bedrag gelykstaande aan die “belastingsegment” (ook ’n gedefinieerde term, synde 14/114 ) soos toegepas op die prys wat vir die eiendom betaal is. Veronderstel byvoorbeeld dat ’n eiendom gekoop word teen R1,14 miljoen deur ’n BTW-ondernemer van ’n persoon wat nie vir BTW geregistreer is nie. Deur die hereregtekoerse toe te pas op hierdie transaksie, sal ’n bedrag van R7 200 aan hereregte deur die koper betaalbaar wees aan die SAID. Desnieteenstaande, egter, kan die ondernemer ook ’n geagte BTW-insetbelastingbedrag van R140 000 (14/114 x R1,14 miljoen) tydens die betrokke BTW-tydperk eis.
Hierdie posisie was nie altyd die geval nie. Voorheen, ingevolge ’n voorwaarde by paragraaf (b) van die definisie van “insetbelasting”, sou ’n insetbelastingeis beperk gewees het tot die bedrag van hereregte wat deur die BTW-ondernemer betaalbaar was toe hy/sy die eiendom verkry het. Dit is egter nie langer die geval nie en die toepaslike voorwaarde is sedertdien geskrap.
[1] Artikel 8 (15) van die Wet op Hereregte, 40 van 1949
[2] 89 van 1991
[3] Kyk die definisie van tweedehandse goedere in artikel 1 van die BTW-wet
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)