Dit gebeur dikwels dat ‘n besigheid goedere aankoop, maar dit dan op ‘n ander manier aanwend as wat die plan was op die oomblik toe die goedere aangekoop is. Byvoorbeeld, ‘n alleeneienaar wat motors verkoop, mag besluit om een van die gekoopte voertuie vir persoonlike gebruik aan te wend. Net so mag ‘n eiendomsontwikkelaar besluit om eerder een van die eiendomme wat in die mark is as nuwe kantoorperseel vir homself te gebruik.
In belastingkringe word daar dikwels gespot dat Newton se wet (dat elke aksie ‘n reaksie het) uitgebrei moet word: elke aksie het ook ‘n belastinggevolg. Dit is beslis ook waar wanneer belastingbetalers ‘n bate behou, alhoewel dit anders aangewend word as die voorgenome doel.
Waar ‘n bate anders aangewend word as wat in die verlede gebeur het, het dit sekere belastinggevolge op ‘n BTW- en inkomstebelastingrekening. Hierdie artikel handel spesifiek oor die BTW-gevolge van sodanige verandering in gebruik.
Vanuit ‘n BTW-perspektief, indien goedere nie meer aangewend word vir die uitbreiding van ‘n BTW-onderneming nie, word daardie goedere beskou as dat dit deur daardie BTW-onderneming voorsien is. Gevolglik moet die belastingbetaler van uitsetbelasting rekenskap gee op die ope markwaarde1 van daardie goedere wat beskou word as dat dit deur die onderneming voorsien is2. Vanuit ‘n teoretiese perspektief is daar ‘n sekere logika: die BTW-handelaar sou insetbelasting geëis het toe hy die betrokke goedere oorspronklik bekom het. Afdeling 18 is dus die statutêre meganisme waarvolgens die insetbelasting wat geëis is (op die basis dat die goedere aangewend sou word om belasbare voorraad te genereer) effektief omgekeer word.
Waar die goedere slegs gedeeltelik gebruik word vir ander doeleindes as die uitbreiding van die BTW-onderneming sal daar ook verwag word dat die insetbelastingaanpassing slegs gedeeltelik verklaar word.
‘n Interessante uitsondering op bogenoemde is waar eiendomsontwikkelaars hul eiendomme tydelik vir ‘n tydperk korter as 3 jaar verhuur. In die praktyk gebeur dit dikwels dat eiendomsontwikkelaars eindomme op ‘n tydelike basis verhuur weens die stadige pas waarteen goedere in die betrokke industrie verhandel word. Alhoewel handelsvoorraad van die BTW-geregistreerde ontwikkelaar dan tegnies vir doeleindes gebruik word wat nie deel vorm van sy eiendomsverkoopsbesigheid nie, laat die BTW-wet3 ‘n tydelike kwytskelding toe rakende die verklaring van uitsetbelasting, en dit word gedoen gebaseer op praktiese oorwegings. Hierdie pragmatiese benadering is ‘n alternatief vir wat andersins slegs ‘n kontantvloeiprobleem sou wees: daar mag van eiendomsontwikkelaars verwag word om uitsetbelasting te verklaar sodra die eiendomshandelsvoorraad aangewend word om residensiële huurinkomste te voorsien, maar wat ‘n jaar of twee later as handelsvoorraad herbenut en verkoop word (en wanneer insetbelasting weer geëis mag word). Alhoewel dit van min belang vir die SAID is (wat neutraal staan na die huurtydperk soos in die voorbeeld), is baie eiendomsontwikkelaars grootliks afhanklik van kontantvloei en sal hulle dus erg benadeel word, tot so ‘n mate dat sommige hul besigheid sal moet sluit indien dit nie vir hierdie praktiese toegewing was wat toegestaan word in sulke beperkte gevalle nie.
- Afdeling 10(7) van die BTW-wet, 89 van 1991
- Afdeling 18(1) van die BTW-wet
- Afdeling 18B van die BTW-wet
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)