BTW: ALGEMENE TEENVERMYDINGSMAATREËLS

BTW EN HEREREGTE
November 21, 2017
HEREREGTE
January 18, 2018

Die meeste belastingwette in Suid-Afrika bevat ’n algemene oorheersende bepaling in die vorm van algemene teenvermydingsmaatreëls[1]. Kragtens hierdie bepalings, waar die algemene teenvermydingsmaatreëls se bepalings van toepassing is, is die Kommissaris van die SAID by magte om in die algemeen ’n tersaaklike transaksie na goeddunke te behandel ten einde die belastingvermydingseffek van die transaksie aan te spreek.

Die BTW-wet[2] se algemene teenvermydingsmaatreëls is vervat in artikel 73 van die Wet. Dit bepaal dat ’n skema onderhewig is aan die BTW-wet se teenvermydingsmaatreëls indien “any scheme …

(a) has been entered into or carried out which has the effect of granting a tax benefit to any person; and

(b)  having regard to the substance of the scheme –

(i) was entered into or carried out by means or in a manner which would not normally be employed for bona fide business purposes, other than the obtaining of a tax benefit; or

(ii) has created rights or obligations which would not normally be created between persons dealing at arm’s length; and

(c) was entered into or carried out solely or mainly for the purpose of obtaining a tax benefit…”

Baie van die bg. woorde en terme word in die BTW-wet  gedefinieer[3]. Eenvoudig gestel, egter, en baie soos die Wet op Inkomstebelasting se algemene teenvermydingsmaatreëls, mag die teenvermydingsbepaling slegs toegepas word  indien vier elemente teenwoordig is, nl. dat (i) ’n transaksie aangegaan is (ii) met die enigste of hoofdoel (iii) om ’n vorm van BTW-voordeel te verkry en (iv) dat die transaksie onreëlmatige kenmerke bevat.

Hierdie bepalings mag van toepassing wees selfs as die belastingbetaler ’n spesifieke teenvermydingsmaatreël wat in die BTW-wet vervat is en wat poog om bepaalde BTW-vermydingskemas te verbied, suksesvol omseil het. Die algemene teenvermydingsmaatreëls se bepalings is dus ’n kragtige teenmiddel wat die Kommissaris op belastingvermydingskemas kan toepas. Sy vermoëns word egter enigsins aan bande gelê in die mate dat die teenvermydingsmaatreëls slegs remediërend toegepas kan word en nie as ’n straf- of belastingmaatreël nie. Met ander woorde: die Kommissaris mag, deur toepassing van die BTW se  algemene teenvermydingsmaatreëls, die BTW-aanspreeklikheid van enige betrokke belastingbetaler bepaal op ’n wyse wat nodig is om die vermyding van BTW aan te spreek deur óf die transaksie te hanteer asof dit nooit aangegaan is nie, óf op ’n wyse wat nodig is om die manifestasie van die BTW-voordeel waarna gestreef word, te verhoed.

[1] Die Wet op Boedelbelasting, 45 van 1955, is ’n opmerklike uitsondering wat lyk of dit uitsluitlik steun op die hantering van Skenkingsbelasting in die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, om as ’n teenvermydingsmaatreël te dien.

[2] 89 van 1991
[3] Artikel 73(2)

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X