DTVDH

Die 2018-belastingseisoen is in volle swang en dit is die moeite werd om na ’n algemene dwaling aangaande die vasstelling van kapitaalwinsbelasting vir individuele belastingbetalers en veral die rol van die “jaarlikse uitsluiting”, te kyk. Deur te verseker dat die jaarlikse uitsluiting akkuraat toegepas word soos bepaal in die Agtste Bylae tot die Inkomstebelastingwet[1], veral waar kapitaalverliese voorkom, sal belastingbetalers gehelp word om hul IT12-belastingopgawes akkuraat te voltooi en, ewe belangrik, om behoorlike belastingbeplanning vir die volgende jaar te doen.

Behalwe vir sekere uitsonderings word daar van belastingbetalers vereis om die wins of verlies te bereken waar ’n bate van die hand gesit word. Dit sluit in die verhandeling van beleggings, eiendomme en selfs belange in privaat maatskappye of beslote korporasies. Hierdie winste of verliese, wat bereken word deur die basiskoste van die opbrengs af te trek, moet saamgevoeg word om die potensiële belastingblootstelling van die verhandeling te bepaal.

Saamgevoegde kapitaalwins of -verlies

Die jaarlikse uitsluiting word toegepas om die saamgevoegde kapitaalwins of -verlies vir ’n jaar te bepaal. Die proses behels twee stappe. Eerstens word alle kapitaalwinste vir die jaar verminder met alle kapitaalverliese vir die jaar. Wesenlik is dit ’n berekening van alle winste en verliese wat in die loop van die jaar gerealiseer het, om by ’n netto totaal uit te kom. Tweedens word die netto bedrag wat vasgestel is, hetsy ’n wins of ’n verlies, verminder met die jaarlikse uitsluiting van R40 000. Die jaarlikse uitsluiting tel in gelyke mate om kapitaalwinste en -verliese te verminder. Belangrik is dat die jaarlikse uitsluiting nie kumulatief is nie, ongebruikte gedeeltes nie oorgedra word na daaropvolgende jare nie en dat dit van toepassing is slegs op winste en verliese van die lopende jaar. As die saamgevoegde wins of verlies dus minder as R40 000 is in die lopende jaar dan het die verhandeling van bates in die betrokke jaar prakties geen invloed op ’n persoon se lopende of toekomstige jare van aanslag nie, hoewel dit steeds ’n vereiste is dat die inligting op die inkomstebelastingopgawe ingevul word.

’n Persoon se aangeslane kapitaalverlies in vorige jare van aanslag word nie, soos algemeen geglo word, verminder deur die jaarlikse uitsluiting nie. Kapitaalverliese van vorige jare word eers in ag geneem nadat die saamgevoegde wins of verlies vasgestel is.

Netto kapitaalwinste of aangeslane verliese

Om by ’n netto kapitaalwins of aangeslane kapitaalverlies uit te kom word enige aangeslane kapitaalverliese van vorige belastingjare afgetrek van saamgevoegde kapitaalwins of bygetel by saamgevoegde kapitaalverliese, afhangende van die geval. As daar ná die aftrekking van vorige verliese steeds ’n netto wins is, word hierdie bedrag ingesluit by ’n individu se belasbare inkomste teen 40%. Dit staan bekend as die belasbare kapitaalwins. As die saamgevoegde verlies van die lopende jaar vermeerder word met die verliese van vorige jare word hierdie aangeslane kapitaalverlies oorgedra sodat dit verreken kan word teen kapitaalwinste in daaropvolgende jare.

Daar word verwag dat, met die inwerkingtreding van die belastingvrye spaarrekeningstelsel, die waarde van die jaarlikse uitsluiting (wat verhoog is van R10 000 vir jare van aanslag voor 2006 tot die huidige R40 000), nie in die toekoms sal verhoog nie.

Gelukkig is die korrekte toepassing van die jaarlikse uitsluiting ingebou in die eFiling-stelsel vir individue. Dit is egter belangrik dat belastingbetalers die korrekte toepassing daarvan verstaan sou die onwaarskynlike gebeur en foute in die eFiling-stelsel voorkom, ten einde hul kapitaalwinste-blootstelling vir toekomstige jare akkuraat te beplan.

[1] 58 van 1962

Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X