Artikel 7C van die Wet op Inkomstebelasting, No. 58 van 1962 (die Wet) is uitgevaardig met ingang van 1 Maart 2017. Dit dien as ‘n teenvermydingsmaatreël gemik op beteueling van die belastingvrye oordrag van rykdom na trusts deur gebruik van lae rente- of rentevrye lenings, voorskotte of krediete. Die Verklarende Memorandum oor die Wysigingswet op Belastingwetgewing 2017 dui aan dat ‘n lening, voorskot of krediet dikwels gebruik word as ‘n metode om rykdom van ‘n individu na ‘n trust oor te dra, dikwels terwyl die trust geen voorneme het om enigiets terug te betaal nie en die lening, voorskot of krediet vir ‘n onbepaalde tyd in plek laat.
Die bepalings van artikel 7C is daarom van toepassing op enige lening, voorskot of krediet wat ‘n natuurlike persoon, of in opdrag van daardie natuurlike persoon, ‘n verbonde maatskappy, direk of indirek voorsien het aan ‘n trust, of ‘n maatskappy onder bepaalde omstandighede. Sou geen van die uitsluitings in artikel 7C van toepassing wees nie en die lening, voorskot of krediet nie rente dra nie of rente dra teen ‘n koers wat laer is as die “amptelike rentekoers”, ontstaan ‘n geagte skenking aan die trust. Die waarde van die skenking is die verskil tussen rente inderdaad gehef en die rente wat gehef sou gewees het as die “amptelike rentekoers” toegepas is.
Artikel 7C(5) bevat agt uitsluitings waarvolgens ‘n lening, voorskot of krediet nie onderworpe sou wees aan die knellende gevolge wat hierbo geskets is nie, nieteenstaande nakoming van die kriteria van artikel 7C.
Een van die meer tersaaklike uitsluitings is waar ‘n lening gebruik is deur ‘n trust of maatskappy (in geheel of gedeeltelik) vir die doel om die aanskaffing van ‘n bate wat gebruik word deur ‘n natuurlike persoon of hul huweliksmaat as ‘n primêre woning, te befonds. Artikel 7C(5)(d) bevat nie enige “eienaarskap”vereistes nie maar slegs ‘n “gebruik” vereiste. Dus, so lank as wat die relevante persone die bate as ‘n primêre woning gebruik het, geld die uitsluiting. Van belang is dat die uitsluiting in artikel 7C(5)(d) ‘n tyd- en bedragbeperking bevat wat slegs van toepassing is indien die woning as ‘n primêre woning gebruik is die hele tyd gedurende die periode tydens ‘n jaar van assessering waartydens die trust die bate behou het, en slegs tot soveel van die lening as wat gebruik is om die onroerende eiendom te befonds.
Daar is ‘n mate van onsekerheid oor of ‘n lening wat verbeteringe of aanbousels van die primêre woning befonds het, vir die vrystelling sal kwalifiseer aangesien die Wet slegs verwys na die “aanskaffing” van ‘n bate. Belastingbetalers behoort daarom geskikte advies te bekom alvorens hulle staatmaak op die uitsluiting in hierdie omstandighede.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).