Wat is artikel 7C?
Hierdie artikel van die Inkomstebelastingwet is ’n teenvermydingsmaatreël wat gerig is op transaksies tussen verbonde persone en trusts, waar ’n trust befonds word deur lae rente of rentevrye lenings. Dit word gewoonlik gedoen om te verseker dat bates deel vorm van die kapitaal van die trust, en dat die befondser (wat gewoonlik ’n trustee of stigter van die trust is) die oordrag van eienaarskap van die bates, en die skep van ’n leningsrekening tot die gemelde persoon se voordeel, toelaat.
Die artikels maak voorsiening vir enige lening, voorskot of krediet deur ’n verbonde persoon, direk of indirek aan ’n trust, en hierdie lening, voorskot of krediet geen rente dra op die lening, voorskot of krediet nie, of rente dra teen ’n koers laer as die amptelike koers, ’n bedrag gelykstaande aan die verskil tussen die bedrag rente wat aangegaan is, en die bedrag wat dit sou aangegaan het as ’n aanvaarbare rentekoers (amptelike koers) gebruik is, geag sal word ‘n skenking in die hande van die lener te wees. Vir die doeleindes van hierdie artikel geld dieselfde beginsel waar ’n maatskappy wat deur trustlenings besit word op voorwaardes wat nie as kommersieel of markverwant beskou word en geen rente gehef word nie.
Wat is die redenasie agter artikel 7C?
Trusts was tradisioneel ’n baie gewilde instrument vir boedelbeplanning. In die verlede was dit gebruiklik om groeibates aan ’n rust te verkoop en dan ’n rentevrye lening vir die verkoopprys aan die trust toe te staan. Dit sou beteken dat die boedel van die verkoper teen daardie waarde vasgepen sou word, omdat die lening nie mettertyd in waarde sou toeneem nie terwyl die bates in die trust groei. Artikel 7C poog om hierdie praktyk aan te spreek, aangesien daar geredeneer word dat so ’n transaksie nie kommersieel sin het nie omdat slegs die trust baat. Die verkoper verdien geen rente op die lening nie en verkry dus geen waarde of voordeel nie.
Hoe werk artikel 7C?
Artikel 7C beskou die rente wat nie op ’n rentevrye lening gehef word nie as ’n geagte skenking op die laaste dag van elke belastingjaar, vir ’n lening wat vir enige periode gedurende daardie voorafgaande belastingjaar, uitstaande was.
Die verbeurde rente word bereken deur die amptelike rentekoers in die 7de Bylae van die Inkomstebelastingwet te gebruik, wat tans 7,25% beloop. Dit sou beskou word as ’n geagte skenking op die laaste dag van die belastingjaar, en gevolglik sal skenkingsbelasting op daardie skenking gehef word.
Waar daar ’n lae rentedraende ooreenkoms is, bepaal die verskil tussen die amptelike rentekoers en die laer rentekoers, die geagte skenking.
Trusts en leningsrekeninge
Moet ek rente hef op ’n lening, voorskot of krediet aan ’n Trust?
Om artikel 7C prakties te maak, word enkele voorbeelde gebruik om die effek daarvan te illustreer.
Voorbeeld 1
’n Lening ter waarde van R10 miljoen word rentevry deur ’n individu toegestaan aan ’n trust. Die individu besluit om sy jaarlikse skenkingsbelating-vrystelling van R100,000.00 op die geagte skenking toe te pas.
Die geagte skenking sal R725,000 beloop (R10 miljoen x 7,25%). Die individu pas dan sy jaarlikse vrystelling van R100,000 toe.
Die aanspreeklikheid vir skenkingsbelasting sal soos volg bereken word: R625,000 x 20% = R125,000 wat die individu sal moet betaal.
Voorbeeld 2
’n Lening van R10 miljoen word deur ’n individu toegestaan aan ‘n trust teen ’n jaarlikse rentekoers van 5% deur die lener. In hierdie voorbeeld, laat ons die jaarlikse skenkingsbelating-vrystelling van die lener buite rekening.
Die geagte skenking word soos volg bereken: R10 miljoen minder x 2,25% (die verskil tussen die rente gehef en die amptelike koers van 7,25% – 5%). Die geagte skenking is dan R225,000.
Die werklike belastingpligtigheid op skenkings is dan R225,000 x 20% = R55,000. Die lener kan nou sy jaarlikse belastingvrystelling van R100,000 toepas.
Dit is duidelik dat die nie-heffing van rente, of die heffing teen ’n laer koers, mag lei tot ’n toename in persoonlike belastingaanspreeklikheid vir die lener.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).