Mnr. A sluit op 1 Januarie 2024 ‘n ooreenkoms om vaste eiendom, Gebou A, aan Mnr B te verkoop, onderhewig daaraan dat Mnr B ‘n onvoorwaardelike koopooreenkoms gesluit het om sy eie vaste eiendom, Gebou B, teen 10 Februarie 2024 te verkoop. Mnr B sluit ‘n onvoorwaardelike ooreenkoms vir die verkoop van Gebou B op 5 Februarie 2024. Die Aktekantoor registreer die oordrag van Gebou A op 15 Junie 2024.
Op watter tydstip realiseer Mnr A kapitaalwinsbelasting? Die belangrikheid van en gedetailleerde oorweging van hierdie vraag word soms misgekyk met potensieel duur implikasies vir Mnr A .
In die konteks van die voorbeeld hierbo is die tyd van beskikking van ‘n bate die datum waarop ‘n ooreenkoms vir die verkoop van sodanige bate gesluit word. As sodanige ooreenkoms egter onderhewig is aan ‘n opskortende voorwaarde, sal die tyd van beskikking vertraag word tot tyd en wyl daar aan die opskortende voorwaarde voldoen of uitvoering gegee word. Die belangrike oorwegings by die bepaling van die tyd van beskikking van die bate en dienooreenkomstig die tydstip waarop kapitaalwinsbelasting realiseer en betaalbaar word sluit onder andere die volgende in:
- Op watter tydstip is ‘n ooreenkoms gesluit vir die verkoop van ‘n bate?
- Is sodanige ooreenkoms onderhewig aan ‘n opskortende voorwaarde?
- Indien (2) hierbo “JA” beantwoord word, sal die tyd van beskikking die tyd wees waarop aan die opskortende voorwaarde voldoen word | Indien (2) hierbo “NEE” geantwoord word, sal die tyd waarop die ooreenkoms gesluit word, die tyd van beskikking wees.
Die tydstip waarop die oordrag van ‘n eiendom in die Aktekantoor geregistreer is en die effektiewe datum van besitname, is nie relevant vir die tyd van beskikking en wanneer kapitaalwinsbelasting betaalbaar is nie.
Sou Mnr A byvoorbeeld die tyd van beskikking oor die verkoop van Gebou A verkeerdelik as 15 Junie 2024 beskou het, sou hy sy kapitaalwins belastingaanspreeklikheid ten opsigte van sodanige transaksie vir doeleindes van sy 2025-jaar van aanslag verklaar het. Aangesien die korrekte tyd van beskikking met betrekking tot bogenoemde voorbeeld 10 Februarie 2024 is (d.w.s. die datum waarop die ooreenkoms vir die verkoop van Gebou A onvoorwaardelik geword het), word die aanspreeklikheid vir kapitaalwinsbelasting realiseer in Mnr A se 2024-jaar van aanslag. As gevolg van Mnr A wat slegs sy kapitaalwins belastingaanspreeklikheid vir doeleindes van sy 2025-jaar van aanslag bereken het, sou Mnr A se inkomste vir die 2024-jaar van aanslag onderskat word en dus onderhewig aan potensieel beduidende onderskattings boetes en rente op laat betaling.
Op grond van bogenoemde is dit duidelik dat die tyd van beskikkings reëls deeglik oorweeg moet word wanneer ‘n bate wat aanleiding gee tot ‘n kapitaalwins vervreem word en kontrakte in die verband opgestel word.
Alhoewel alle redelike pogings aangewend word om die akkuraatheid en deeglikheid van die inhoud van hierdie publikasie te verseker, sal nie die skrywers van die artikels of die uitgewer enige verantwoordelikheid dra vir die gevolge van enige aksies gebaseer op inligting of aanbevelings hierin vervat nie. Ons materiaal is vir inligtingsdoeleindes.