2020 was ‘n onvoorspelbare jaar, om die minste te sê. Dit lyk amper asof elke nuwe week sy eie onsekerhede en bekommernisse inhou. In sulke tye is dit belangrik vir huurders van residensiële eiendomme om te weet wat hul regte is rakende die vroeë kansellasie van huurooreenkomste as gevolg van COVID-19, die opvolgende inperking en die algemene verandering van persoonlike omstandighede.
As vertrekpunt kan die huurder die huurooreenkoms raadpleeg om te kyk of daar bepalings is wat vroeë kansellasie toelaat. Indien daar nie so ‘n klousule is nie, of die bepalings van die klousule onaanvaarbaar is, kan die huurder hom wend tot die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 (“die WVB”), indien van toepassing.
Die WVB is van toepassing op huurkontrakte vir huise, behalwe in seldsame omstandighede. Raadpleeg u prokureur om die WVB se toepaslikheid op jou huurooreenkoms te bepaal.
Indien die WVB op die huurooreenkoms van toepassing is, kan die huurder die huurooreenkoms enige tyd wettiglik kanselleer, selfs al is daar geen kansellasieklousule in die ooreenkoms nie. Artikel 14 (2) (b) van die WVB bepaal dat ‘n huurder die huurooreenkoms mag kanselleer ten spyte van enige weersprekende bepaling in die huurooreenkoms, deur skriftelike kennisgewing van 20 werksdae te gee.
Daar kan wel finansiële gevolge vir die huurder wees, aangesien die verhuurder ‘n redelike kansellasieboete kan oplê met vroeë kansellasie. Daar is spesifieke riglyne in Regulasie 5 van die Wet oor wat as ‘n “redelike kansellasieboete” kwalifiseer.
Die kansellasieboete mag nie buitensporig wees nie, en as die huurder van mening is dat die verhuurder se eis wel buitensporig en onbillik is, kan hulle die Nasionale Verbruikerstribunaal of die Huurbehuisingstribunaal nader. Huurders kan ook hul eie prokureur nader, wat die verhuurder kan aanspreek en ‘n redelike kansellasieboete onderhandel, solank die relevante feite van die saak in ag geneem word.
By verstryking van ‘n vaste huurooreenkoms sal die huurooreenkoms outomaties oordra elke opeenvolgende maand tensy die huurder uitdruklik ingestem het tot die hernuwing van ‘n verdere vaste termyn, of indien die huurder die ooreenkoms op die vervaldatum beëindig het. In só ‘n geval is die bepalings van die Wet op Huurbehuising 50 van 199 van toepassing. Die verhuurder kan die huurooreenkoms, ingevolge die wet, kanselleer deur een kalendermaand se kennisgewing te gee.
In Luanga v Perthpark Properties Ltd 2019 (3) SA 214 (WCC) het die Wes-Kaapse hooggeregshof beslis dat die kennisgewing van een maand geïnterpreteer moet word as ‘n kennisgewing wat voor die einde van die maand gegee word om die kontrak aan die einde van die daaropvolgende maand te beëindig.
Daar is dus verskillende oorwegings ter sprake wanneer ‘n huurder vroegtydig hul huurooreenkoms wil beëindig. Om onnodige geskille en ‘n buitensporige kansellasieboetes te vermy, sal ‘n huurder daarby baat om hul prokureur te raadpleeg voordat hulle die verhuurder in kennis stel van hul beplande kansellasie.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat spruit uit die vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd u adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings is uitgesonder (E&OE).