Op die 24ste Februarie vanjaar sal die Minister van Finansies, Tito Mboweni, weereens die jaarlikse Begrotingsrede kort op die hake van die Staatsrede van President Cyril Ramaphosa net ’n week vroeër lewer. Na aanleiding van die verwagte R700 biljoen begrotingstekort vir die huidige siklus, sal Minister Mboweni forseer word om ’n paar drastiese besluite te neem aangaande belasting. Hieronder oorweeg ons sommige van die potensiële areas waar veranderinge gemaak kan word.
Welvaartbelasting
Vir ’n aantal jare was daar al besprekings rondom die oplegging van ’n welvaartbelasting in Suid-Afrika vir ’n sekere inkomstevlak. Onlangse kommentaar wil aandui dat, sou só ’n belasting opgelê word vir diegene met netto bates van meer as R3.2 miljoen, soveel as R56 biljoen verhaal kan word ten opsigte die fiskus. Daar is menigte mense wat welvaartbelasting as ’n dubbele belasting beskou aangesien Suid-Afrikaanse inwoners reeds onderworpe is aan kapitaalwinsbelasting na die beskikking van bates asook boedelbelasting.
Dus word daar ’n groot teenkanting verwag vanaf dié wat reeds voel hulle is oorbelas in die hoër inkomstevlak. Die instelling van ’n welvaartbelasting mag dalk voortydig wees aangesien die basis waarop dit sal geskied asook die invorderingsmeganismes nog nie in detail oorweeg is nie, wat kan lei tot ’n administratiewe nagmerrie. Daarom is ons siening dat ’n welvaartbelasting nie op die kaarte is vir 2021 nie.
Verhoging van die BTW-tariewe
BTW is ’n belasting op verbruikers. Met die verswakte ekonomie en menigte sektore van die ekonomie wat tans steeds nie tot volle kapasiteit werk nie, sal ’n verhoging in die BTW-tariewe nie ’n aansienlike verskil kan maak tot vanjaar se fiskus nie. Daar word ook verwag dat daar teenkanting ontvang sal word van Unies en die algemene publiek indien BTW-tariewe verhoog sou word. Daarom is ons ook nie oortuig dat BTW-tariewe verhoog sal word as ’n bykomende bron van inkomste vir die regering in 2021 nie.
Beperkings op verliese en rente-aftrekkings
Al was hierdie sake reeds tydens die vorige begrotings- en wetgewende-wysigingsiklus uitgelig, het dit nie in 2020 die aandag verkry wat dit verdien het nie. Dit is vermoedelik as gevolg van die komplekse kwessies wat die Nasionale Tesourie moes aanvat gedurende 2020 (insluitend COVID-19 verligtingsmeganismes). Na ons mening sal albei hierdie sake in 2021 wetgewende wysigings tot gevolg hê.
Toename in KWB-koers
Dit is onwaarskynlik dat ‘n toename in die insluitingskoers van kapitaalwinsbelasting (KWB) aansienlik tot die fiskus sal bydra – gevolglik verwag ons geen verhogings in hierdie verband nie.
Solidariteit Heffing/Belasting
In 1994 was Suid-Afrikaanse belastingbetalers onderhewig aan ‘n eenmalige oorgangsheffing om die verhoogde uitgawes wat veroorsaak is deur die oorgang na demokrasie te akkommodeer. Nie sedert 1994 het ons ‘n enkele gebeurtenis gehad wat gelei het tot so ‘n aansienlike uitvloei uit die fiskus soos in die geval van COVID-19 nie. Hoewel die implementeringsmeganismes en verwagte inkomste uit so ‘n solidariteitsbelasting of eenmalige heffing onseker is, sal ons glad nie verbaas wees as hierdie kwessie op 24 Februarie 2021 genader word om die begroting te ondersteun nie.
Die 2021-Begrotingsrede sal waarskynlik die mees uitdagende een in Suid-Afrika se geskiedenis wees, gegewe die aansienlike begrotingstekort wat ons in die gesig staar en die huidige verswakte wêreldekonomie. Ons wens Minister Mboweni en sy kollegas by die Nasionale Tesourie alles van die beste toe terwyl hulle voorberei vir ‘n baie moeilike taak.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)