DTVDH

Ons het tevore berig oor die invoering van artikel 7C van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962. Kragtens hierdie teenvermydingsbepaling het die Nasionale Tesourie gepoog om ‘n aanval te loods op rentevrye lenings wat aan trusts gemaak word deur verbonde persone van die trust.

Hierdie lenings sou tipies tot stand kom deurdat ‘n individu sy of haar bate  verkoop aan ‘n trust waarvan hy of sy ‘n begunstigde is vir die doeleindes van boedelbelasting, per rentevrye leningsrekening. Deur dit te doen sou die bate se waarde in die trust groei terwyl die rentevrye lening steeds ‘n nie-appresierende, statiese bate in die hande van die begunstigde is en dus toekomstige kapitaalgroei op die bate uitsluit van boedelbelasting wanneer die individu eendag te sterwe kom.

Artikel 7C ag dat ‘n rentekomponent op rentevrye en laerente leningsrekeninge ontstaan in die mate dat rente nie teen die voorgeskrewe koers gehef word nie. Die bedrag van die geagte rente word dan behandel as ‘n jaarlikse skenking deur die trust, wat meebring dat skenkingsbelasting op die waarde van die geagte lening wat aan die trust gemaak is, gehef word. Aan die ander kant, sou die trustkrediteure inderdaad rente hef op lenings aan die trusts, sou dit aanleiding gee tot die oploop van belasbare inkomste in hul hande wat dan onderhewig sal wees aan inkomstebelasting gehef teen heersende inkomstebelastingkoerse.

Die nuwe voorstelle vervat in die konsep-Wysigingswet op Belastingwette wat op 19 Julie 2017 gepubliseer is, sluit twee beduidende hervormings in wat die omvang van die teenvermydingsbepalings van artikel 7C verder fokus en twee spesifieke beplanningsoplossings wat in die praktyk bedink word ten einde die toepassing van artikel 7C in sy huidige vorm teë te werk, opponeer.

Die eerste sodanige voorstel waarvan kennis geneem moet word is dat lenings aan trusts nie meer die enigste teiken is nie en dat rentevrye lenings wat deur begunstigdes van trusts aan maatskappye wat deur trusts besit word, gemaak word, nou ook in die visier is. Dit is ‘n poging om struktureringsoplossings waardeur lenings wat deur ‘n trust verskuldig is en by wyse van ingewikkelde herstrukturerings geskuif is na maatskappye wat deur die trusts besit word, die hoof te bied.

Die tweede voorstel is gemik op die oordrag van lenings wat deur trusts verskuldig word, van die krediteurindividu aan ‘n ander, waardeur prakties “die skakel verbreek word” tussen die persoon wat die lening aan die trust toegestaan het en die persoon wat nou geregtig is op die bedrae verskuldig deur die trust. Met ander woorde, artikel 7C sou voorheen slegs van toepassing wees op die persoon wat die lening aan die trust toegestaan het. Aangesien die persoon wat nou beskik oor die leningeis, nie oorspronklik die lening aan die trust toegestaan het nie, sou die bepalings van artikel 7C in sy oorspronklike vorm, nie van toepassing gewees het nie. Die tweede nuwe hersiening van artikel 7C werk hierdie benadering teë deur duidelik te maak dat ‘n verbonde persoon wat ‘n leningeis bekom ook gevang word deur die bepalings van artikel 7C (en dus genoodsaak word om rente te hef) ongeag daarvan dat die persoon nie self enige leningsfinansiering aan die trust toegestaan het nie.

Die bovermelde is nog blote voorstelle maar is bedoel om op 19 Julie 2017 in werking te tree. Belastingbetalers met leningsrekenings aan trusts word dus aangeraai om advies te bekom oor hoe om voortaan met sodanige leningsrekenings te werk te gaan.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X