Belastingbetalers wat natuurlike persone is en ‘n salaris verdien, het baie min items van uitgawe beskikbaar wat hulle mag aftrek vir inkomstebelasting doeleindes (Afdeling 23[m] van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962). Oor die algemeen is die aftrekkings wat salaristrekkers vir inkomstebelasting doeleindes mag eis beperk tot onder andere bydrae tot aftreefondse, skenkings aan goedgekeurde openbare voordeelorganisasies, mediese fondsbydraes en uitgawes rakende afstande gereis wat verreken kan word teen ‘n reistoelaag wat toegestaan word.
Om hierdie beperking vry te spring, tref ‘n belastingbetalende werknemer ‘n reëling met die werkgewers om nie direk in diens aangestel te word nie, maar dat ‘n maatskappy (wat tipies deur die belastingbetaler besit word) gekontrakteer word om die dienste te verskaf wat die belastingbetalende werknemer andersins direk in ‘n werknemerskapasiteit sou moes lewer. Die werknemer verrig hierdie diens nou indirek aan die werkgewer as werknemer van die gekontrakteerde maatskappy. Op hierdie manier word baie ander uitgawe-items ook potensieel aftrekbaar deur die belastingbetaler se maatskappy wat nie beperk word deur die voorwaardes van Afdeling 23(m) nie, aangesien die maatskappy nie in ‘n werksverhouding met sy kliënt staan nie, wat andersins die natuurlike persoon se werkgewer sou wees. ‘n Verdere potensiële voordeel wat verkry word deur op te tree as ‘n maatskappy in ‘n werksverhouding is dat die inkomstebelasting wat deur hoë-inkomste verdieners betaal moet word, effektief beperk word tot die korporatiewe inkomstebelastingkoers van 28%.
Om hierdie gevalle van omseiling teen te werk, is die regime van “persoonlike diensverskaffer” geskep. Die aftrekkings beskikbaar aan “persoonlike diensverskaffers” vir inkomstebelasting doeleindes word dienooreenkomstig beperk soos in die geval van salaristrekkers (Afdeling 23[k]). ‘n “Persoonlike diensverskaffer” word gedefinieer as ‘n maatskappy of trust namens wie dienste persoonlik aan ‘n kliënt van die maatskappy of trust gelewer word deur ‘n individu wat verbonde is aan die maatskappy of trust, en waar ook aan enigeen van die volgende drie kriteria voldoen word:
- Die individu sal as ‘n werknemer van die kliënt beskou word indien die dienste direk aan die kliënt gelewer is deur die individu;
- Die pligte verbonde aan die dienste moet oorwegend op die perseel van die kliënt uitgevoer word, of die individu, maatskappy of trust is onderhewig aan die beheer of toesig van die kliënt rakende die manier waarop die pligte uitgevoer word; of
- Meer as 80% van die inkomste van die maatskappy of trust tydens die belastingjaar uit dienste gelewer bestaan uit bedrae direk of indirek ontvang van enige kliënt van die maatskappy of trust.
(Sien paragraaf 1 van die Vierde Skedule van die Wet op Inkomstebelasting)
Individue wat van maatskappye probeer gebruik maak om toegang tot verhoogde inkomstebelasting aftrekkings te verkry, of om hul marginale belastingkoers te beperk, moet van die bogenoemde antivermydings maatreëls kennis neem. Dit is egter ook van toepassing op klein maatskappye in die dienste-industrie, aangesien dit wel mag wees dat hierdie maatskappye ook onbewustelik in die strik van hierdie antivermydings maatreëls trap.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)