DTVDH

Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) word tans tipies gehef teen 14% op alle belasbare voorraad of dienste wat deur geregistreerde BTW-ondernemers gelewer word. Belasbare voorraad sluit vrygestelde voorraad, soos die verskaffing van finansiële dienste, residensiële eiendom of opvoedkundige dienste, in. (Kyk artikel 12 van die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde, 89 van 1991). Waar ‘n BTW-ondernemer vrygestelde voorraad maak, mag die ondernemer nie BTW hef op fakture vir sodanige goedere of dienste wat aan klante gelewer word nie.

Belasbare voorraad sluit egter die voorsiening van goedere of voorraad teen ‘n BTW-koers van nul persent, in. Met ander woorde, as ‘n BTW-ondernemer nulkoersgoedere of -dienste lewer moet die ondernemer BTW op die faktuur hef teen 0% en nie teen die standaardkoers van 14% nie. Dit mag met die eerste oogopslag onsinnig lyk, veral vanuit ‘n ekonomiese perspektief beskou as dit met vrygestelde voorraad vergelyk word: prakties word geen BTW op ‘n faktuur gehef nie, ongeag of die lewering van die BTW-ondernemer vrygestel is van BTW of gehef word teen ‘n koers van nul persent.

Die betekenis hiervan is dat die vrygestelde voorraad geheel en al van BTW vrygestel is terwyl nulkoers-voorraad steeds beskou word as “belasbare voorraad” soos in die Wet omskryf. BTW-ondernemers mag dus insetbelasting eis vir uitgawes wat aangegaan word met die verskaffing van belasbare voorraad, selfs as dit teen ‘n nulkoers belas word. Dit is nie die geval met BTW-vrygestelde voorraad nie.

Eenvoudig gestel: Insetbelasting mag geëis word vir uitgawes aangegaan na die mate dat die uitgawes uiteindelik aangewend word om nul- of standaardkoersvoorraad te maak. Na die mate dat uitgawes aangewend word om BTW-vrygestelde voorraad te maak, mag daar nie inset-BTW geëis word nie.

As voorbeeld: ‘n BTW-ondernemer, A (Edms) Bpk, lewer dienste wat aan nulkoers onderhewig is kragtens artikel 11(2)(1) van die BTW-Wet, aan ‘n Australiese firma. Die faktuur aan die Australiese firma beloop R100 teen nul persent BTW (dus R100). Ten einde die dienste te lewer maak A gebruik van ‘n subkontrakteur wat A faktureer vir R50, BTW teen 14% (dus R57). Na die mate dat die dienste van die subkontrakteur gebruik word om A se maak van belasbare voorraad (selfs teen nul persent) vir die Australiese klant tot voordeel te strek, is A in staat om ‘n insetbelastingbedrag van R7 te eis en dus ‘n profyt van R50 te maak.

Sou die dienste wat A gelewer het, egter neerkom op vrygestelde voorraad vir BTW-doeleindes kragtens artikel 12 van die BTW-Wet (byvoorbeeld die lewering van finansiële dienste) sou A steeds sy klant gefaktureer het vir ‘n bedrag van R100 maar nie die insetbelastingbedrag van R7 kon eis nie op grond daarvan dat die subkontrakteur se fooi nie betaal word in belang van die bevordering van A se maak van belasbare voorraad nie. In hierdie geval, waar vrygestelde voorraad gemaak word, sou ‘n wins van slegs R43 gerealiseer het.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X