DTVDH

Ons kliënte sal bewus wees daarvan dat Dividendbelasting die ou Sekondêre Belasting op Maatskappye (SBM) effektief reeds op 1 April 2012 vervang het. In kort was die SBM maatskappybelasting wat bereken is as ‘n faktor van dividende wat deur daardie maatskappy verklaar is. Die regime was egter ietwat uit voeling met internasionale neigings (wat ook aanleiding gegee het tot sekere anomalieë wanneer Suid-Afrika met ander lande onderhandel het rakende dubbele belastingooreenkomste): die internasionale norm is eerder dit wat ons ook vandag in Suid-Afrika gebruik, naamlik ‘n belasting op aandeelhouers (in teenstelling met die dividendverklarende maatskappy) en waarvan die belasting op dividende betaalbaar aan die aandeelhouers teruggehou word. Dividendbelasting word teen 15% gehef. Byvoorbeeld, indien ‘n persoon (wat nie vrygestel word van Dividendbelasting nie) R100 in dividende van ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy moet ontvang, sal slegs R85 aan die aandeelhouer betaal word en R15 sal teruggehou word om namens die aandeelhouer aan die SAID oorbetaal te word.

Alhoewel ons vind dat die meeste van ons kliënte verstaan hoe Dividendbelasting werk, is daar heelwat van ons korporatiewe kliënte wat skynbaar onbewus is van die indiening van opgawes vir beide dividendverklarings en dividende ontvang. Daar word vereis dat maatskappye ‘n Dividendbelasting-opgawe moet indien wanneer hule dividende verklaar (afdeling 64K(1A)), maar daar word ook van persone verwag om ‘n opgawe in te dien indien hulle dividende ontvang het wat vrygestel word van Dividendbelasting. Aangesien alle Suid-Afrikaanse maatskappye wat belastingpligtig is oor die algemeen van Dividendbelasting vrygestel word, sal dit effektief beteken dat Suid-Afrikaanse belastingpligtige maatskappye ook Dividendbelasting-opgawes sal moet indien vir alle Suid-Afrikaanse dividende wat hulle ontvang.

Die nodige Dividendbelasting-opgawes (die SARS DTR01- en DTR02-vorms) moet ingedien word teen die einde van die maand wat volg op die maand waarin die relevante dividend uitbetaal/ontvang is. Die Dividendbelasting-betaling (waar van toepassing) moet genoemde opgawe vergesel.

Dus, alhoewel ‘n maatskappy slegs dividende uitbetaal en ontvang wat nie onderhewig is aan Dividendbelasting nie, word die vrygestelde belastingbetaler steeds verplig om die vereiste opgawes in te dien. Die opgawes is boonop nie die enigste nakomingsvereiste waaraan gehoor gegee moet word nie: waar ‘n aandeelhouer op ‘n dubbele belastingooreenkoms staatmaak waarvolgens ‘n verlaagde Dividendbelastingkoers toegepas word (teenoor die statutêre 15% wat binnelands van toepassing is), of waar daardie persoon heeltemal van Dividendbelasting vrygestel word, moet daardie aandeelhouer die maatskappy van sy status in kennis stel deur middel van ‘n verklaring, tesame met ‘n onderneming dat die aandeelhouer die maatskappy sal verwittig indien laasgenoemde status in die toekoms sou verander. In die afwesigheid van so ‘n verklaring moet die maatskappy steeds die Dividendbelasting terughou, selfs indien die aandeelhouer objektief gesproke van Dividendbelasting vrygestel word.

Dit is duidelik dat die persoon wat die relevante Dividendbelasting-vereistes nie nakom nie – selfs indien dit ietwat onbeduidend voorkom en as sulks nie streng deur die SAID toegepas word nie – so handel op eie risiko. In hierdie geval mag nie nakoming ‘n beduidende impak hê indien ‘n belastingbetaler ondersoek word en skuldig bevind word rakende hierdie kwessie.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X