DTVDH

Aangesien baie van ons deels (party van ons feitlik heeltyds) digitaal werk, is dit nie meer onwaarskynlik om bedrog teen te kom nie. Met werk van die huis af het hierdie risiko vertiendubbel, wat beteken dat persoonlike en besigheidsdata ‘n groeiende bron van kommer is.

Hieronder is ‘n paar top wenke om veiliger aanlyn te werk. Wat dit beteken om aanlyn skade te ly? Kuber-aanvalle kan geweldige koste meebring en grootskaalse persoonlike of sake-ontwrigting veroorsaak. Die omvang van jou skade hang af van die aard en omvang van jou verlies.

‘n Aanval kan plaasvind wanneer jy op ‘n skakel klik, en kan selfs jou webwerf en data skaak, of op bedrieglike wyse met jou kliënte of vriende skakel. Daar is baie maniere waarop

misdadigers jou kul en vat wat hulle kan kry. Hoewel niemand doelbewus hul waaksaamheid aanlyn verslap nie, kan dit maklik gebeur as jy nie altyd aanlyn veiligheid ‘n prioriteit maak nie.

Vinnig klik kan jou kos

Ons moenie oorgerus wees nie, maar altyd die sender of bewoording nagaan voordat ons op ‘n skakel of aanhangsel in ‘n e-pos klik. As ‘n mens sonder om twee keer te dink klik op ‘n opwip boodskap of dit aanvaar, kan dit jou duur te staan kom. Wees versigtig, in plaas van om vinnig daarop te klik.

Wagwoord beskerming en bywerking is belangrik

Eenvoudige wagwoorde is miskien maklik om te onthou, maar net so maklik om te ontsyfer. Gebruik slegs sterk wagwoorde en verander hulle gereeld. Hoewel gratis of goedkoop teen virus-sagteware ‘n mate van beskerming kan bied, is dit dikwels nie gesofistikeerd genoeg om die al hoe meer opportunistiese aanvalle wat jy aanlyn teenkom, af te weer nie. Dit is belangrik om bywerking van jou teenvirussagteware te aktiveer. Verouderde beskermings programme kan die teenoorgestelde uitwerking hê – dit bied hoegenaamd geen beskerming nie.

Gaan bankbesonderhede na voor jy betaal

Bevestig ‘n faktuur deur ‘n telefoonoproep te maak in plaas van om dit net te betaal, of verifieer die rekening besonderhede via jou bank, selfs al kan dit die betaling effens vertraag. Dit is altyd beste praktyk om eers ‘n rekening of die bron van ‘n e-pos na te gaan voordat jy ‘n aanhangsel oopmaak.

Internetverbinding stel jou bloot aan kuberrisiko’s. Die pandemie het ook aanleiding gegee tot Covid-19-verwante aanvalle soos uitvissing (phishing) of die gebruik van kwaadwillige webwerwe, terwyl kuberkrakers die potensiële swakpunte van ‘n tuiskantoor-infrastruktuur in die visier het. Afstandwerk-sagteware, Office 365 en blaaiers soos Google Chrome word oral gebruik, en daarom is dit oral teikens. Google het waarskuwings uitgestuur om die publiek van moontlike aanvalle bewus te maak – wees dus ekstra versigtig.

Wat staan jou te doen?

Gaan alles weer na, wees skepties, en moenie die maklike uitweg kies nie. Gebruik ‘n langer wagfrase of gebruik ‘n wagwoordbestuurder-toepassing om wagwoorde veilig te bewaar. Kry gereeld ‘n nuwe en veilige Wi-Fi-wagwoord, en gebruik verifiërings hulpmiddels soos eenmalige wagwoorde (OTP’s) en vingerafdruk-goedkeuring van betalings wanneer jy jou selfoon gebruik om transaksies uit te voer.

Hoe meer jou sekuriteit oplossing by jou behoeftes aangepas is, hoe beter. Dit kom neer op die gebruik van eenmalige wagwoorde en die evaluering van enige aanhangsels voordat jy hulle oopmaak. Sommige meer gevorderde teenvirusoplossings waarvoor jy betaal, gebruik reeds gedragsontledings en kunsmatige intelligensie wat jou eindpunt-toestel monitor. Jou gevorderde teen virus-oplossing sal byvoorbeeld die programme monitor wat op jou skootrekenaar loop, en as enige van hulle vreemd of op ‘n kwaadwillige wyse reageer, sal hulle beperk word en sal jy daarvan in kennis gestel word.

Hoewel kuberversekering dikwels meer op besighede gerig is, is daar ook produkte vir individuele beskerming beskikbaar. Maak dus seker jy oorweeg wat jy miskien nodig het om nie aanlyn skade te ly nie, en fokus ook altyd daarop om verantwoordelik op te tree. Gesels met jou versekerings adviseur om die versekering te bepaal wat jy miskien nodig het.

Met dank aan Ryan van de Coolwijk, Kuberprodukhoof by ITOO Special Risks en PSG Konsult Groep.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X