Dit is ’n gevestigde beginsel dat geregistreerde BTW-handelaars ‘n aftrekking mag eis vir insetbelasting op goedere of dienste wat aangeskaf is vir gebruik tydens die maak van belasbare voorrade as deel van die bedryf van ‘n onderneming.[1] Byvoorbeeld, ‘n BTW-handelaar koop handelsvoorraad by ‘n ander handelaar met die doel om dit vervolgens aan sy kliënte te verkoop. Sodra daardie goedere deur die BTW-handelaar aangekoop word, selfs op krediet, mag insetbelasting oor die algemeen geëis word rakende die goedere wat aangekoop is.Wanneer bogenoemde BTW-handelaar die goedere op krediet koop, mag die insetbelasting wat geëis word effektief omgekeer word indien die krediteur nie spoedig betaal word nie. In terme van afdeling 22(3) van die Wet op BTW, waar die oorweging vir die aankoop van goedere 12 maande na die aankoop nog nie deur die BTW-handelaar aan sy verskaffer betaal is nie, sal ‘n gedeelte van die insetbelasting wat geëis is, effektief omgekeer word en aan die SAID as uitset BTW oorbetaal word. Met ander woorde, waar ‘n BTW-handelaar insetbelasting geëis het, maar nog nie die verskuldigde bedrag aan die persoon betaal het wat hom van die dienste of goedere voorsien het in terme waarvan die insetbelasting geëis word nie, sal die eis om insetbelasting effektief gekanselleer word.
Alhoewel dit vir die meeste mense na ‘n beuselagtigheid mag lyk, word die kwessie egter relevant waar goedere of dienste tussen verwante persone of entiteite voorsien word, soos byvoorbeeld groepmaatskappye. In die onlangse uitspraak tussen XYZ Maatskappy (Edms.) Bpk. v CSARS[2] moes die hof oorweeg op watter tydstip “betaling” plaasgevind het vir BTW-doeleindes. In daardie geval is ‘n BTW-lewering gemaak tussen ‘n beheermaatskappy en sy filiaal, met die verskuldigde bedrag wat gevolglik geskuif is vanaf die debiteureboek na die leningsrekening wat die filiaal by die beheermaatskappy gehad het. Die SAID het bepaal dat die koopprys wat uitstaande op die leningsrekening was steeds nie deur die filiaal betaal is nie, dus moes die insetbelasting wat deur die filiaal geëis is, as uitsetbelasting beskou word 12 maande na die lewering.
Die Belastinghof het egter hiervan verskil en ‘n wye betekenis aan die woord “betaal” toegesê. Daarvolgens was die daad van oordrag van die verskuldigde bedrag vanaf die debiteureboek na die leningsrekening van die partye gelykstaande aan die betaling van sodanige skuld voortspruitend uit die lewering. Die beheermaatskappy het ‘n nuwe reg bekom met nuwe terme, naamlik daardie wat verbind is aan die nuutgeskepte leningsrekening en wat verskil van handelskuld, alhoewel die teenparty onveranderd was. Betaling, in die breë konteks, is nie beperk tot slegs kontantvloei nie, maar sluit ook ‘n wisseling en die skep van nuwe regte en verpligtinge in.
Terwyl die uitspraak spesifiek handel oor die konteks van afdeling 22(3) is die oorweging of bedrae “betaal” is of nie geensins beperk tot hierdie voorwaarde nie en mag die effek daarvan ook wyer uitkring na ander bepalings van die Wet op BTW, naamlik die bepalings van afdeling 16(3), wat handel oor insetbelasting wat geëis word op tweedehandse goedere wat aangeskaf is, en waarvan hierdie ‘n relevante voorbeeld is.
[1] Afdeling 17(1) van die Wet op BTW, 89 van 1991
[2] Saaknr.: BTW 1247, 5 September 2016 (Kaapstad)
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)