Die tradisionele voetstootsklousule wat kragtens die gemene reg aanspreeklikheid van die verkoper vir enige gebreke in die goedere wat deur hom of haar verkoop word, uitsluit, het dikwels die verbruiker in ’n onbenydenswaardige posisie geplaas waarvoor hy/sy geen remedie gehad het nie. Hierdie besorgdheid oor gebreke is vererger waar tweedehandse goedere verkoop is, veral as hierdie goedere items van hoë waarde was, soos motorvoertuie. Die Wet op Gebruikersbeskerming (die Wet) het hierdie situasie gewysig met die invoer van bepaalde standaarde en implisiete waarborge wat groter beskerming aan die verbruiker verleen.
Verbruikers verkies dikwels om tweedehandse goedere te koop om geld te bespaar of bloot omdat hulle ’n winskoop raakgeloop het. Hoewel tweedehandse goedere moontlik ’n winskoop kan wees, kan dit riskant wees om dit te koop omdat dit gebreke mag bevat terwyl die verbruiker se reg om te verhaal in so ’n geval uiters beperk kan wees. Hierdie besorgdheid oor gebreke word vererger wanneer items van hoë waarde gekoop word, soos motorvoertuie waar latente gebreke duur kan wees om te herstel en die verbruiker dikwels in ’n situasie kan beland waar hy/sy betekenisvolle bedrae geld moet bestee aan die herstel van gebreke terwyl hy/sy steeds die aanvanklike aankoopprys afbetaal.
Die grootste beperking van die verbruiker se reg op verhaling wanneer foutiewe goedere gekoop word is die sogenoemde “voetstoots”-klousule wat dikwels ingesluit word in mondelinge of skriftelike verkoopooreenkomste. Hierdie klousules word dikwels na verwys as “soos dit is” klousules omdat dit letterlik beteken dat die verbruiker die produk koop soos dit staan, met alle latente en sigbare gebreke ingesluit. Die verkoper kan dan nie gemeenregtelik verantwoordelik gehou word vir skadevergoeding wanneer sulke gebreke ontdek word nie terwyl die verbruiker geen remedie nie.
Die tradisionele posisie soos hierbo uiteengesit is egter dramaties gewysig met betrekking tot tweedehandse goedere wat verkoop word deur ’n verskaffer wat goedere of dienste lewer in die normale verloop van sy/haar besigheid. (Dit sluit in die meeste verkopers wat nie private persone is wat bloot hul goedere op ’n eenmalige grondslag verkoop nie). Hierdie beskerming word deur die Wet verleen aan verbruikers wat sowel tweedehandse as nuwe goedere koop.
Artikel 55 van die Wet stel bepaalde standaarde waaraan goedere wat deur verskaffers verkoop word, moet voldoen. Die artikel vereis eerstens dat goedere redelik geskik moet wees vir die doel waarvoor dit algemeen gebruik word. Die goedere moet tweedens van ’n goeie kwaliteit wees, in ’n goeie werkende toestand verkeer en vry wees van enige gebreke. Laastens moet die goedere bruikbaar en duursaam wees vir ’n redelike tydperk in ag genome die gebruik wat normaalweg daarvan gemaak sal word en met inagneming van enige relevante omstandighede.
Artikel 56 van die Wet skep ’n implisiete waarborg waarvolgens verbruikers oor sekere remedies beskik as die bogenoemde standaarde nie nagekom word nie. Verbruikers mag ingevolge die implisiete waarborg sulke defektiewe goedere teruggee vir herstel, terugbetaling of vervanging. Die waarborg is geldig vir ses maande na die aankoopdatum.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat die tradisionele voetstootsklousule wat kragtens die gemene reg geldig was, nie langer verkopers beskerm teen aanspreeklikheid vir defektiewe goedere nie. ’n Voetstootsklousule wat egter pertinent meld wat die kondisie is van die item wat verkoop word en wat al die defekte wat teenwoordig is, lys, sal kragtens die Wet geldig wees as die verbruiker dit uitdruklik aanvaar. Dit is die posisie aangesien die verbruiker nie benadeel sal word nie omdat hy of sy bewus sal wees van die defekte en dus ’n ingeligte besluit kan neem.
Voorts moet daar ook op gelet word dat sowel die standaarde wat in artikel 55 uiteengesit word as die waarborg in artikel 56, ingesluit moet word in ’n verkoopooreenkoms. Die verbruiker word dus altyd beskerm. Dit is gerade dat verbruikers wat oorweeg om ’n tweedehandse motorvoertuig of ’n ander waardevolle tweedehandse artikel aan te koop, eerder so ’n artikel van ’n handelaar koop as van ’n private persoon wat ’n eenmalige verkooptransaksie aangaan, aangesien voetstootsklousules tussen private persone wat ’n verkooptransaksie aangaan steeds geldig sal wees (tensy die verkoper opsetlik die gebreke verberg het).
Dokumente geraadpleeg
- Consumer Protection Act 68 of 2008
- Advisory Note 1: Consumer Goods and Service Ombud
- Consumer Protection Guide for Lawyers: Law Society of South Africa
- Right to Return Goods in Terms of Section 56 of the CPA: SEESA
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).