‘n Maatskappy wat geld aan sy direkteure leen, mag dit moontlik ‘n moeiliker proses vind as wat dit aanvanklik blyk – selfs in die geval van sogenaamde “eenmanmaatskappye”. Daar is verskeie vereistes waaraan voldoen moet word volgens die Wet op Maatskappye 71 van 2008, sowel as sekere potensiële slaggate in die Wet op Inkomstebelasting 58 van 1962, waarvan kennis geneem moet word.
Afdeling 45 van die Wet op Maatskappye reguleer die uitleen van geld deur maatskappye aan hul direkteure. Die omvang van die voorwaarde strek egter veel wyer as slegs ‘n lening: dit dek enige vorm van “finansiële bystand” aan direkteure, wat spesifiek “uitleen van geld, waarborg van ‘n lening of ander verpligting, en sekurering van enige skuld of verpligting” insluit.
Die raad van direkteure van ‘n maatskappy moet die finansiële bystand aan ‘n direkteur goedkeur, en die raadsbesluit hiertoe moet na alle aandeelhouers gesirkuleer word, sowel as na alle vakbonde wat werknemers van die maatskappy verteenwoordig. Die maatskappy se raad moet verder ook tevrede wees dat die finansiële bystand billik en redelik vir die maatskappy is, en dat die maatskappy steeds daarna likied en solvent sal wees. Hulle moet ook verseker dat dit nie teenstrydig is met die maatskappy se Memorandum van Inkorporasie nie. Indien die finansiële bystand enige van hierdie voorwaardes verbreek, mag die direkteure moontlik persoonlik aanspreeklik gehou word vir enige skade.
Vanuit ‘n belastingperspektief is ‘n direkteur van ‘n maatskappy per definisie ook ‘n werknemer van daardie maatskappy. Dit beteken dat die direkteur aanspreeklik mag wees vir belasting op ‘n byvoordeel indien ‘n lening aan hom of haar toegestaan word wat nie ‘n markverwante rentekoers dra nie. Vir die doeleindes van die Wet op Inkomstebelasting sal dit die geval wees waar die lening rente dra wat laer is as die repokoers plus 100 basispunte (sien paragraaf 11(1) van die Sewende Skedule tot die Belastingwet). Die waarde van enige sodanige byvoordeel sal vir belastingdoeleindes ingesluit word by die direkteur se bruto inkomste en dienooreenkomstig belas word.
Byvoordele is nie die enigste potensiële belastingkommer vir maatskappye met leningsrekenings in hul guns teen ‘n direkteur nie. Direkteure is heel dikwels ook aandeelhouers in ‘n maatskappy (wat veral die geval is by klein en mediumgrootte maatskappye). In hierdie geval sal ‘n rentevrye lening, of een wat rente dra onder die repokoers plus 100 basispunte, aanleiding gee tot ‘n erkende dividend in die hande van die direkteur-aandeelhouer. Die erkende dividend sal effektief die tekort aan rente wees. Hierdie bedrag sal op ‘n jaarlikse basis bereken word en is onderhewig aan dividendbelasting van 15% (afdeling 64E(4) van die Wet op Inkomstebelasting), wat vir die direkteur se rekening sal wees.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)