Voorlopige belastingbetalers is gewoonlik daardie belastingbetalers wat inkomste uit ’n ander bron as ‘n salaris verdien. LBS word dus nie op ‘n maandelikse basis van daardie ander bronne van inkomste afgetrek en aan die SAID oorbetaal nie. Soos die geval is met LBS vorm voorlopige belasting ‘n kontantvloeimeganisme na die Nasionale Tesourie waardeur voorafbetalings van ‘n uiteindelike belastingaanspreeklikheid vir ‘n belastingjaar verhaal word op inkomste wat nie onderhewig is aan die LBS-regime nie en wat andersins eers later betaal sou word wanneer die jaarlikse inkomstebelasting aanslag uiteindelik ingedien word. Dit kan tot ‘n jaar later eers gebeur.
Vir hierdie doel word van voorlopige belastingbetalers vereis om ’n skatting van hul jaarlikse belasbare inkomste sesmaandeliks in te dien. In die geval van natuurlike persone word vereis dat geskatte voorlopige belasting by die SAID ingedien word deur middel van ‘n voorlopige belastingaanslag jaarliks aan die einde van Augustus en weer aan die einde van Februarie. Regspersone moet ook skattings van belasbare inkomste aan die einde van die eerste ses maande van hul finansiële jaar en weer op die laaste dag van die finansiële jaar indien.
Vir die eerste sesmaandelikse skatting om ingedien te word, moet die belastingbetaler ‘n skatting maak van die beraamde belasbare inkomste wat verdien sal word in die volle aanslagjaar: die helfte van die belasting betaalbaar op die geskatte bedrag moet op daardie datum aan die SAID betaal word, alhoewel enige bedrae LBS wat alreeds afgetrek is, in ag geneem moet word waar salaris-inkomste ook verdien word. Vir die tweede voorlopige belastingaanslag moet ‘n skatting ook ingedien word en die belasting op sodanige skatting oorbetaal word (nadat enige bedrae LBS wat alreeds deur die jaar afgetrek is, sowel as die eerste voorlopige belastingbetaling wat reeds betaal is, in aanmerking geneem is).
Die potensiaal tot manipulering deur belastingbetalers is ooglopend en ‘n wettige remedie word benodig om te verseker dat voorlopige belastingbetalers nie net gedurig ‘n Rnul-opgawe indien en daardeur die betaling van bedrae aan die SAID uitstel totdat die belasting opgawe vir die toepaslike jaar uiteindelik ingedien word nie. Vir hierdie doel maak die Vierde Skedule van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, voorsiening vir boetes wat gehef mag word waar dit tydens die finale aanslag voorkom asof die belastingbetaler sy belasbare inkomste onderberaam het vir voorlopige belastingdoeleindes. Vir belastingbetalers wat meer as R1 miljoen in belasbare inkomste verdien, word speling toegelaat in dat ‘n beraming minstens 80% van die werklike belasbare inkomste wat uiteindelik bereken word, moet wees. Dit gee erkenning aan die feit dat dit onwaarskynlik is dat belastingbetalers teen jaareinde reeds ‘n akkurate skatting van hul werklike belasbare inkomste kan maak. Indien die geskatte belasbare inkomste egter minder as 80% van die werklike belasbare inkomste is, sal ‘n boete van 20% gehef word op die verskil tussen die belasting betaalbaar op 80% van die werklike belasbare inkomste en die belasting betaalbaar op die geskatte bedrag wat deur die belastingbetaler ingedien is.
Die ooreenkomstig sal belastingbetalers wat minder as R1 miljoen belasbare inkomste verdien onderhewig wees aan dieselfde 20%-boete, maar binne ‘n 90%-speling van akkuraatheid in plaas van 80%. Hierdie belastingbetalers ontvang addisionele verligting in dat hulle toegelaat word om as skatting ‘n faktor van hul laaste geassesseerde belasbare inkomste in te dien sonder om die risiko van ‘n boete te loop, selfs as hierdie bedrag uiteindelik minder as 90% van die werklike belasbare inkomste is.
Dis interessant dat geen onderberamingsboete bestaan vir eerste voorlopige belastingskatting nie, alhoewel die SAID skattings wat ingedien is, mag bevraagteken en mag versoek dat belastingbetalers hersiene eerste voorlopige belastingskattings indien. Betreffende tweede voorlopige belastingskattings moet belastingbetalers versigtig wees wanneer hulle beraamde belasbare inkomste voorberei vir voorlopige belastingdoeleindes, aangesien versuim kan lei tot ‘n aansienlik verhoogde belastingaanslag wanneer die aanslag vir die belastingjaar uiteindelik deur die SAID bereken word.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)