DTVDH

Du Toit van den Heever fier vanjaar sy 75ste bestaansjaar. Ons het Mnr Willem du Toit waaronder al 4 die huidige direkteure hul klerkskap voltooi het gevra om paar gedagtes met ons te deel rakende die ontstaan en vorming van die firma.

Dit is met groot dankbaarheid en waardering dat ek op hierdie wyse kan  deelneem aan die viering van Du Toit van den Heever wat sy ontstaan 75 jaar gelede hier op Upington gehad het as n tak van Brink Roos en du Toit.

Met die plasing van mnr Heese en sy klerk Gert Agenbach in n kantoor in Schröder straat in 1947, het die vennote van Brink Roos en du Toit seker nie kon dink watter groot rol die firma in die Noord Kaap sou speel nie. Almal wat deur die jare deel gehad het in die groei van die firma, wat die eerste Rekenmeesters en Ouditeure in Upington was, moet verseker vandag trots wees op wat tot stand gebring is en dat die firma nog steeds van krag tot krag gaan.

Dit is  nie my doel om mense uit te sonder nie en daarom wil ek as voormalige vennoot van hierdie firma waaraan ek my totale produktiewe lewe gewy het en waarvan ek 32 jaar n vennoot was, dankie se aan almal wat saam met my en Ben van den Heever gebou en uitgebrei het aan Du Toit van den Heever deur harde werk en diens aan baie kleinte, groot en klein deur die jare. Toe ek as pas gegradueerde by die firma aangesluit het, het die firma uit twee vennote en ongeveer 20 personeel bestaan, met geen elektroniese toerusting wat op daardie stadium bestaan het nie en wat toe nog finansieel state op wasvelle getik en afgerol het. Vandag kan die jong leerling rekenmeesters hulle seker nie indink, in n kantoor sonder rekenaars, eposse, selfone en whatsapp nie.

Ek wil ook hulde bring aan die rol wat die firma gespeel het in die vestiging en uitbouing van baie besighede deur die jare. Dit is ondenkbaar om jouself in te dink in groot gevestigde maatskappye, maar ook kleinere besighede, boere, ens. se bestaan, sonder die insette van Du Toit van den Heever. Die kundigheid wat deur die jare beskikbaar was vir elkeen van die firma se kliënte, het grootliks bygedra tot hul groei en sukses. Die dienste wat aanvanklik bestaan het uit Oudit en belasting, is uitgebrei tot n volledige reeks van finansiële dienste, wat omvattend is en wat die funksionering van n besigheid, boerdery, diens organisasies, ens. ten nouste raak.

Dit is dan ook vir my n voorreg om steeds vir Du Toit van den Heever, sy vennote Nico, Jaco, Jannie en Gerhard en hul personeel dop te hou en ook van hul dienste en advies gebruik te maak. Ek assosieer my met trots en genoegdoening met hulle, veral as ek sien watter groot en belangrike rol hulle in die lewens van baie mense in die Noord Kaap speel. Ek wens die Vennote en personeel, n suksesvolle en diensbare toekoms toe en ek glo dat Du Toit van den Heever sal groei en sal deel hê aan die groei en sukses van sy kleinte en ook die breër gemeenskap.

WJK du Toit – voormalige vennoot

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie as regs- of ander professionele advies gebruik of staatgemaak word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak  altyd jou finansieel adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings uitgesonder (E&OE).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X