DTVDH

Die onderskeid tussen bedrae van ’n kapitale aard wat ontvang word in teenstelling met ontvangste van ’n inkomste-aard, is noodsaaklik vir inkomstebelastingdoeleindes. Nie-kapitaalbedrae wat ontvang word, soos uit die verhandeling van handelsvoorraad, is onderhewig aan belasting teen ’n hoër effektiewe koers vergeleke met kapitaalwinste.

Die primêre voorneme met die aanskaf van ‘n bate is in die algemeen oortuigend met betrekking tot die aard van die ontvangste wat voortspruit uit die realisasie van ’n kapitale bate, tensy ander faktore intree wat toon dat dit verkoop is in die nastrewing van ‘n winsmakende skema. Dit is egter nie ongewoon dat ‘n persoon se voorneme met betrekking tot die wyse waarop hy/sy ’n bate hou, om watter rede ook al, verander nie. Só ’n verandering van voorneme kan onbedoelde belastinggevolge hê.

Eerstens sal, vir die doeleindes van kapitaalwinsbelasting (KWB), ’n verandering in die voorneme om bates as handelsvoorraad te hou, lei tot ’n geagte vervreemding van die bates op die datum onmiddellik voordat só ’n verandering in voorneme plaasvind. Sodanige vervreemding sal geag word plaasgevind het teen die markwaarde van die bates op daardie tydstip. Die effek hiervan is dat selfs as daar nie ’n werklike vervreemding was nie, die verskil tussen basiskoste en markwaarde van die betrokke bates onderhewig sal wees aan KWB. As die geagte vervreemding ’n kapitaalwins tot gevolg het, kan dit kontantvloeibeperkings meebring, aangesien daar geen werklike kontantopbrengste is om die belastingaanspreeklikheid wat ontstaan, te befonds nie.

Die tweede gevolg is dat die persoon behandel sal word as sou hy/sy die bate onmiddellik weer aangeskaf het teen dieselfde markwaarde waarteen die geagte vervreemding plaasgevind het. Daarna word, vir inkomstebelastingdoeleindes, die koste van die handelsvoorraad as die markwaarde beskou, sodat slegs die wins wat bo daardie waarde gerealiseer word, onderhewig sal wees aan normale inkomstebelasting. Enige wins wat uit die verkoop van die bates voortspruit sal derhalwe slegs onderhewig wees aan inkomstebelasting in die mate dat die waarde van die bate bo en behalwe die markwaarde daarvan verhoog het toe dit handelsvoorraad geword het.

Wanneer die teendeel plaasvind (dit wil sê, bates wat voorheen as handelsvoorraad gehou is, maar nou as kapitale bates gehou moet word), word ’n persoon behandel as sou hy/sy die bate van die hand gesit het teen ’n bedrag wat by die persoon se inkomste ingesluit is volgens die bepalings wat handel oor handelsvoorraad, en onmiddellik weer die bate aangeskaf het teen ’n koste gelykstaande aan daardie bedrag. Hierdie koste word behandel as ’n bedrag van die uitgawes wat werklik aangegaan en betaal is vir toekomstige KWB-doeleindes.

Die bedrag wat ingevolge die bepalings van die handelsvoorraad in ag geneem moet word, hang af van wat die gebruiksverandering behels:

  • Privaat of huishoudelike gebruik of verbruik: Koste, minus enige voorsiening vir veroudering. As die kosprys nie geredelik bepaal kan word nie, gebruik dan die markwaarde; of
  • Bates wat nie langer as handelsvoorraad gehou word nie: Markwaarde.

Afgesien van die gevolge vir inkomstebelasting, kan daar ook gevolge ten opsigte van waardetoegevoegde belasting en hereregte wees as daar ’n verandering van voorneme is in die wyse waarop bates gehou word. Dit is raadsaam dat in so ‘n geval die nodige professionele hulp verkry word om moontlike slaggate te bestuur.

Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X