Kragtens artikel 17 van die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde, 89 van 1991, is ’n geregistreerde BTW-ondernemer daarop geregtig om enige BTW-bedrae wat betaal is op goedere en dienste wat verkry of ingevoer is en wat gebruik sal word ter bevordering van die betrokke BTW-onderneming, terug te eis. Die bevoegdheid om inset-BTW op hierdie wyse te eis is beperk tot slegs BTW-ondernemers en die bewoording van artikel 17(1) stel duidelik dat insetbelasting slegs geëis kan word ten opsigte van goedere en dienste wat aan ’n ondernemer gelewer is, met ander woorde aan ’n persoon wat reeds ’n geregistreerde ondernemer is ten tye van die lewering van die goedere en dienste aan hom/haar.
Artikel 18(4) van die BTW-Wet bring verligting vir persone wat onkostes aangaan in die vorm van goedere of dienste wat aan hulle gelewer word in afwagting op die vestiging van ’n BTW-onderneming. Kragtens hierdie bepaling en nieteenstaande Artikel 17 waarkragtens BTW betaal word op goedere en dienste wat deur ’n persoon verkry word en hierdie goedere en dienste daarna verskaf sal word as deel van ’n BTW-onderneming, die goedere en dienste waarop BTW histories betaal is geag sal word aan die BTW-ondernemer verskaf te gewees het eers op die stadium dat die goedere en dienste deur die ondernemer gebruik word om sy eie BTW-voorraad te verskaf. Met ander woorde, die bepaling stel ’n persoon wat vroeër nie by magte sou gewees het om ’n eis vir insetbelasting in te stel nie, in staat om insetbelasting te eis op daardie goedere en dienste wat vroeër, voordat hy/sy ’n BTW-ondernemer geword het, aan hom/haar verskaf is.
Die verligting is nie beperk tot goedere en dienste wat aan die tans-BTW-ondernemer verskaf is en waarop BTW betaal is nie, maar sluit ook tweedehandse goedere in wat vroeër deur die ondernemer bekom is en nou gebruik word ter bevordering van sy/haar BTW-onderneming.
Ons vind in die praktyk dikwels dat die SAID sulke eise vir insetbelasting afwys op grond daarvan dat die BTW-nommer van die ondernemer wat die eis indien nie verskyn op die faktuur wat hy/sy daarna sou voorlê ter ondersteuning van sy/haar inset-BTW-eis nie. Dit is duidelik ’n teenstrydigheid aangesien die BTW-eisende ondernemer onder hierdie omstandighede nie die BTW-nommer op die faktuur van ’n ander onderneming wat goedere en dienste aan hom/haar verskaf het kon laat verskyn het nie eenvoudig omdat die ondernemer nie op daardie stadium ’n BTW-nommer sou gehad het nie, maar heeltemal geregtig is om ’n BTW-inseteis in te dien kragtens die bepalings van artikel 18(4). Ons betoog dat die SAID se benadering teenstrydig is met die bewoording van artikel 20(4)(c) van die BTW-Wet wat vereis dat die volgende bewoording moet verskyn op fakture wat deur ondernemers voorgelê word ter ondersteuning van ’n insetbelastingeis:
“… the name, address and, where the recipient is a registered vendor, the VAT registration number of the recipient”.
Dit is duidelik dat waar ’n ondernemer ’n faktuur indien om insetbelasting te eis op “pre-onderneming”-uitgawes wat aangegaan is, die ondernemer nie op daardie stadium ’n geregistreerde ondernemer sou gewees het nie en dus, na ons mening stellig nie nodig sou gehad het om sy/haar eie BTW-nommer op ’n faktuur te laat verskyn ter ondersteuning van ’n eis vir inset-BTW op “pre-onderneming”-uitgawes nie.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingblad en moenie op staatgemaak word as regsadvies of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of verlies of skade wat voortspruit uit staatmaking op enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Behoudens foute en weglatings (BFW).