Op 21 Februarie 2018 het die vorige Minister van Finansies, Malusi Gigaba, aangekondig dat die Nasionale Tesourie besluit het om die BTW-koers met ingang 1 April 2018 van 14% tot 15% te verhoog. Sedertdien is ons praktyk toegeval met navrae oor die korrekte hantering van BTW, spesifiek in verband met die verkoop van residensiële eiendomme. Moet BTW gehef word teen 14% of 15% in gevalle waar ’n ooreenkoms reeds gesluit is vir die verkoop van eiendom deur ’n BTW-ondernemer? Die vraag is van besondere belang in die eiendomsmark, gegewe die hoë waardes wat tipies betrokke is by sulke transaksies.
Normaalweg sou uitsetbelasting betaalbaar wees wanneer vaste eiendom deur BTW-ondernemers verkoop word op die vroegste van twee datums, naamlik wanneer enige bedrag as deel van die transaksie betaal is of wanneer die oordrag van die eiendom by die Aktekantoor geregistreer is.[1] In die reël, dus, wanneer ’n ooreenkoms vir die verkoop van ’n eiendom (deur ’n BTW-ondernemer) deur albei partye onderteken is, moet uitset-BTW slegs gehef word sodra enige betaling deur die aankoper gemaak is (wat betaling van ’n deposito sou insluit) of wanneer die verkoop by die Aktekantoor geregistreer word.
Die kommer is dus dat eiendomme waarvoor ’n ooreenkoms reeds onderteken is, aan BTW teen 15% onderhewig mag wees as gevolg van die vertragende invloed wat die bogenoemde bepaling mag hê met die vasstelling van die tyd van lewering vir BTW-doeleindes.
In die geval van ’n verandering in die BTW-koers is die bogenoemde reël nie van toepassing nie. Watter BTW-koers dan toegepas moet word, word nie bepaal deur wanneer die onderliggende BTW betaalbaar is nie. Artikel 67A(4) van die BTW-Wet verskaf die nodige uitkoms.[2] Wesenlik bepaal dit dat waar enige residensiële eiendom verkoop word kragtens ’n ooreenkoms wat voor 1 April 2018 aangegaan en onderteken is, die transaksie steeds onderhewig sal wees aan BTW teen 14%.
Dit bring ten minste ’n bietjie verligting in die geval van transaksies vir die aankoop van residensiële eiendom wat aangegaan is voor die aankondiging van die BTW-verhoging. Ons het egter verskeie meer komplekse scenario’s teëgekom en moedig betrokke partye aan om ons te kontak ten einde te verseker dat die toepassing van BTW op hulle vaste-eiendomstransaksies, korrek geskied.
[1] Artikel 9(3)(d) van die BTW-Wet, 89 van 1991
[2] (4) … [W]here, before the date on which an increase in the rate of tax leviable … becomes effective, a written agreement is concluded for—
(ii) the supply of such fixed property or services under the said agreement is in terms of section 9 deemed to take place on or after the said date,
the rate at which tax is in … leviable in respect of that supply, shall be the rate at which tax would have been levied had the supply taken place on the date on which such agreement was concluded.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).