oorlopige belastingbetalers moet jaarliks twee opgawes indien: een ses maande na die aanvang van die betrokke jaar van aanslag en ‘n tweede opgawe op die laaste dag van die betrokke belastingjaar.[1] Voorlopige belastingbetalers is belastingbetalers wat inkomste in ‘n ander vorm as salarisinkomste (waarvan LBS maandeliks afgetrek word) verdien, en om hierdie rede maak die fiskus staat op die voorlopige belastingstelsel om bestendige kontantvloei in die loop van die jaar te verseker deur van voorlopige belastingbetalers te vereis om twee keer gedurende die jaar van aanslag, opgawes in te dien.
Omdat opgawes in die loop van ‘n belastingjaar ingedien word, word voorlopige belasting oorbetaal op grond van ramings van voorlopige belasting. Dit is prakties moeilik vir voorlopige belastingbetalers om te weet hoeveel belasting eintlik op ‘n bepaalde stadium betaalbaar is, of dit nou ses maande na die aanvang van die belastingjaar is of op die laaste dag van die belastingjaar. Dit is daarom heel moontlik dat voorlopige belastingbetalers ná die afsluiting van die betrokke belastingjaar, mag besef dat die ramings wat ingedien is onvoldoende was en minder sal wees as die belasting wat uiteindelik betaalbaar is wanneer die finale belastingberekening gemaak word. Die Wet op Inkomstebelasting maak derhalwe voorsiening vir ‘n sg. “top up” of aanvullingsbetaling wat deur voorlopige belastingbetalers gemaak kan word binne ses maande na die einde van die betrokke jaar van aanslag (of sewe maande indien die belastingbetaler se belastingjaar in Februarie eindig.) [2]
Aanvullings- of derde betalings hou twee besliste voordele vir voorlopige belastingbetalers in. In die eerste plek bied dit ‘n kontantvloeivoordeel wat dit vir belastingbetalers moontlik maak om hul toekomstige kontantvloei te bestuur deur te kies om ‘n aanvullende betaling te maak ten einde by te dra tot belasting wat in ieder geval betaalbaar sal wees wanneer ‘n jaarlikse opgawe uiteindelik ingedien en aangeslaan word. Tweedens bring ‘n derde voorlopige belastingaanslag ‘n betekenisvolle toegewing mee in die vorm van ‘n rentevoordeel. Terwyl rente op onderbetaalde voorlopige belasting normaalweg sou oploop ten gunste van die fiskus en bereken word vanaf die eerste dag na die einde van die jaar van aanslag, [3] word tydige derde betalings van voorlopige belasting geag gemaak te gewees het op die laaste dag van die jaar van aanslag, m.a.w. tesame met die tweede voorlopige belastingbetaling.
Voorbeeld: XYZ (Edms) Bpk se belastingjaar eindig op 30 April 2017. Die firma het nulopgawes ingedien vir beide hul eerste en tweede voorlopige belastingramings. Agterna, met die finalisering van hul rekeninge vir 2017 word bevind dat hulle in die 2017-belastingjaar‘n beduidende belasbare kapitaalwins van R10 miljoen gemaak het wat nie voorheen in berekening gebring is met die indien van hul voorlopige belastingramings nie. As hulle die belasting verskuldig op hierdie bedrag teen 31 Oktober 2017 sou betaal as ‘n derde voorlopige belastingbetaling, sal geen rente op die bedrag gehef word wanneer ‘n aanslag vir 2017 uitgereik word nie. Sou daar egter geen derde voorlopige belastingbetaling gemaak word nie sal rente gehef word op die onderbetaalde bedrag met ingang van 1 Mei 2017.
[1] Paragrawe 21 en 23 van die Vierde Skedule tot die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962.
[2] Paragraaf 23A van die Vierde Skedule tot die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962.
[3] Artikel 89bis(2) van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)