Dit is baie belangrik dat jy jou boedel beplan, wat ’n lewende testament, ’n laaste testament, en ’n lewende trust kan insluit. Dit kan help om jou gesin voor te berei vir moeilike tye, wanneer jy nie meer hier is om hulle te help of te adviseer nie. Ons lewens is besig om al hoe meer ingewikkeld te raak, so boedelbeplanning vir jonk en oud word toenemend belangrik. Jong mense moet oorweeg om sekere boedelbeplanningsdokumente op te stel.
Wanneer om te begin met boedelbeplanning?
Op die ouderdom van 18 word ’n jong man of vrou amptelik ’n volwassene in die oë van die wêreld. Dit beteken dat jy geregtig is om belangrike finansiële, regs- of gesondheidsbesluite oor jou lewe te maak. Maar wat as iets gebeur en jy kan nie hierdie besluite op ’n kritieke tyd neem nie? Sulke situasies kan wissel van ’n klein ongerief tot ’n lewensbedreigende krisis, maar as jou boedel in orde is, kan dit namens jou praat. Let op die volgende:
1.Finansiële volmag
’n Finansiële volmag stel jou in staat om iemand wat jy vertrou aan te stel, soos ’n ander familielid, om namens jou finansiële besluite te neem. Hierdie dokument kan geaktiveer word wanneer jy ongeskik is, of onmiddellik nadat dit onderteken is, en sal effektief bly totdat jy self weer jou eie besluite kan neem.
’n Finansiële volmag sal die aangewese persoon in staat stel om belangrike regs- en finansiële aangeleenthede namens die gewer te hanteer. In die geval van ’n besigheids- of finansiële situasie wat die jong volwassene behels, soos ’n paspoort- of motorregistrasie hernuwing, is dit gerieflik dat die volmag namens hom/haar optree as hulle nie aandag aan die probleem kan gee nie. Hierdie reëling kan baie handig te pas kom wanneer daar ’n regssituasie is wat vinnige aksie vereis en die jong volwassene nie kan aandag gee daaraan nie. Gesinne met ’n gestremde familielid kan ook voordeel trek uit die sekuriteit van ’n volmag.
2.Lewende Testament
’n Lewende testament stel jou in staat om spesifieke mediese wense te stel terwyl jy lewe, maar nie in staat is om dit te kommunikeer nie. Kunsmatige lewensondersteuning, in die geval van ’n koma of terminale siekte, is ’n probleem wat dikwels in só ’n dokument bespreek word. Voorkeure aangaande die toediening van pynmedikasie, kunsmatige voeding en ander behandelings kan in hierdie dokument gedikteer word.
3.Gesondheidssorg volmag
Met hierdie tipe volmag, gee jy iemand anders die mag om namens jou gesondheidsbesluite te neem. Hierdie besluite, met betrekking tot ernstige gesondheids- en emosionele probleme, sal gemaak word op grond van instruksies wat jy vooraf aan jou volmag gegee het. Soms word ‘n lewende testament gekombineer met ’n gesondheidssorg volmag, aangesien dit van tyd tot tyd gekanselleer kan word deur dit te vernietig, met jou dokter te kommunikeer, ’n brief te skryf oor die kansellasie, of deur die skep van ’n nuwe lewende testament en gesondheidssorg volmag, wat aandui dat die nuwe testament al die voriges herroep.
Begin die gesprek
Elke familie se regsbehoeftes is anders, so miskien moet jy die eerste stap neem om voorbereid te wees vir die ergste. Onthou, elke keer as jou gesin verander, soos wanneer ’n kind gebore word, moet jy jou testament aanpas om hulle in te sluit. Begin die proses en wees voorbereid.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)