Om by iemand in die rooi te wees is vir meeste ’n onaangename ervaring, veral as die skuldeiser die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (die SAID) is.
Omstandighede lei egter soms na gevalle waar ’n belastingpligtige agter raak met bedrae wat aan die SAID verskuldig is. Ons ondervind egter dat die SAID se skuldinvorderaars (intern en nuut-aangestelde eksterne agente) al hoe meer aktief uitstaande skuld invorder – grootliks weens die tekorte soos wyd gepubliseer wat tesourie ervaar.
Belastingwetgewing maak voorsiening vir belastingpligtiges om alternatiewe reëlings met die SAID te tref om belastingbetalings uit te stel, af te betaal en selfs in sekere gevalle af te skryf.
Dit is egter belangrik om die SAID vroegtydig en pro-aktief te nader om sulke reëlings te tref.
Meestal is die SAID geneë om afbetalingsterme aan te gaan met belastingpligtiges. Dit stel die belastingbetaler in staat om hul skuld in paaiemente af te betaal. Alle tipe belasting betalings kan daarvoor aansoek doen, maar dit is ’n vereiste om te kan toon dat die belastingpligtige werklik in ’n posisie is om nie dadelik hul belastings te kan betaal nie.
Die SAID vereis gedetailleerde inligting ten opsigte van die belastingpligtige se finansiële posisie alvorens enige afbetalingsooreenkoms toegestaan sal word al dan nie. Oorweging word geskenk aan die betalingsgeskiedenis van die belastingpligtige, vorige oortredings van die belastingwet asook geldige redes waarom die belastingpligtige nie hul skuld ten volle kan betaal nie.
Belastingpligtiges moet egter in gedagte hou dat die SAID nie deur die ooreenkoms gebind sal wees indien die belastingpligtige nie aan die voorwaardes en terugbetalingsterme van die ooreenkoms gehoorsaam is nie.
In die geval waar die uitstaande aanspreeklikheid minder as R 50 000 is sal die SAID gewoonlik ’n 3-6 maande afbetalingsooreenkoms sonder te veel moeite toestaan. Die aansoek moet redes insluit waarom die skuld nie onmiddellik terugbetaal kan word nie.
In gevalle waar die skuld R 50 000 oorskry moet ’n aantal dokumente en inligting die aansoek vergesel. Dit sluit in, maar is nie beperk nie, tot:
Ons nooi u uit om met ons belastingafdeling in verbinding te tree sou u enige verdere navrae met betrekking tot die afbetaling van u skuld hê.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).