Ons kyk terug op sommige van die belangrike hoogtepunte (en laagtepunte) van die 2018 belastingjaar.
Davis-belastingkomitee handel sy werk af
Die Davis-belastingkomitee (DBK) is in 2013 aangestel deur die Minister van Finansies om die rol van die belastingstelsel in die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei, werkskepping, ontwikkeling en fiskale volhoubaarheid, te ondersoek. Die komitee het verskeie in-diepte verslae gepubliseer, insluitend BTW, korporatiewe inkomstebelasting, kapitaalwins en welvaartsbelasting. Baie van hul aanbevelings sal ongetwyfeld in die jare wat kom, oorweeg word. Op 27 Maart 2018, na vyf jaar, het die DBK hul finale vergadering gehou. Alle verslae is beskikbaar by http://www.taxcom.org.za/library.html.
Belangrike uitsprake
Twee belangrike, presedent-skeppende uitsprake is gedurende 2018 deur ons howe gelewer:
- Sasol Oil: In November het die Hoogste Hof van Appèl (HHA) in Sasol se guns bevind toe die SAID verskeie transaksies wat hulle aangegaan het, bevraagteken het op grond daarvan dat die transaksies gesimuleer is. Die hof het die toetse wat gebruik word om te bepaal of transaksies gesimuleer word en die gebied van belastingontduiking betree, herbevestig. Dit was ’n R1,3 miljard-oorwinning vir die belastingbetaler.
- Volkswagen: Wat die waardasie van handelsvoorraad betref, het die HHA aangedui dat die waardering van voorraad teen netto realiseerbare waarde in stryd is met twee fundamentele beginsels. Eerstens word belasbare inkomste van jaar tot jaar bepaal deur te kyk na gebeure wat gedurende daardie jaar plaasgevind het, sodat belasting terugskouend is, terwyl die netto realiseerbare waarde vooruitskouend is. Tweedens, die effek van die gebruik van netto realiseerbare waarde is dat uitgawes wat eers in ’n toekomstige jaar aangegaan sal word in die produksie van belasbare inkomste in daardie toekomstige jaar, in ’n vorige belastingjaar aftrekbaar sou wees. Op grond hiervan het die hof in die SAID se guns bevind.
Veranderinge aan die Wet
Die jaarlikse wetgewende siklus het geëindig toe die Wysigingswetsontwerp op Belastingwette op 24 Oktober 2018 gepubliseer is, en het ’n proses wat in Februarie met die Begrotingstoespraak begin het, beëindig. 94 organisasies en individue het waardevolle insette en kommentaar op die konsepwetsontwerp gelewer oor kwessies wat wissel van risikokapitaalmaatskappye tot skuldvermindering. Soos gewoonlik het die insette van die publiek en organisasies die wysigings aan die Wet aansienlik gevorm.
Nugent-kommissie
In Mei is ’n kommissie met betrekking tot belastingadministrasie en bestuur by die SAID aangestel onder leiding van Afgetrede Regter Robert Nugent. Verskeie kommerwekkende openbarings is gemaak, wat tot die ontslag van Tom Moyane as Kommissaris gelei het. ’n Finale verslag van die Kommissie is binnekort beskikbaar – wat hopelik die toneel vir positiewe veranderinge by die SAID sal stel.
BTW-verhoging en hersiening
Kort na die verhoging in die BTW-koers tot 15% op 1 April 2018, is hersiening van die nulgradering van verskeie goedere deur ’n paneel deskundiges onderneem. Hulle het beslis dat brood meel, koekmeel en sanitêre doekies vanaf 1 April 2019 nulkoersitems sal wees, teen ’n inkomsteverlies van R1,2 miljard vir die fiskus.
Huldeblyk
Ongelukkig het twee gerespekteerde persoonlikhede in die belastinggemeenskap in 2018 gesterf. Professore Matthew Lester en Lynette Olivier sal onthou word vir hul waardevolle bydraes oor baie jare op die gebied van belasting op akademiese terrein en in die handel. Hul werke sal voortgaan om vir baie jare as gesaghebbende bronne te dien.
Ongetwyfeld sal 2019 net soveel, indien nie meer, opwindende veranderinge in die wêreld van belasting bring. Dit sal veral interessant wees om die politieke impak op ons belastingstelsel te sien, gegewe dat ons in ’n verkiesingsjaar is.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).