WATTER BELEGGING IS DIE BESTE? HOE OM JOU OPSIES TEEN MEKAAR OP TE WEEG

IS DIT NODIG VIR ‘N TESTAMENT?
March 14, 2016
TRANSACTIONS REQUIRED TO BE REPORTED TO SARS IN TERMS OF THE TAX ADMINISTRATION ACT
March 14, 2016

Ons word almal vertel dat ons moet spaar en geld belê. As jy nou ‘n mooi bedrag gespaar het, hoe moet jy dit belê? Watter tipe belegging moet jy maak? Die antwoorde sal van ‘n aantal oorwegings afhang, waarvan die belangrikste jou risikotoleransie is. In hierdie artikel word daar gepoog om ‘n bietjie lig te werp op sommige van die faktore wat oorweeg moet word wanneer ‘n keuse gemaak moet word tussen verskillende beleggingsopsies.

Faktore wat oorweeg moet word voordat ‘n belegging gemaak word.

Die eerste faktor wat oorweeg moet word wanneer ‘n keuse tussen verskillende beleggingsopsies gemaak moet word, is die beginsel van risiko teenoor opbrengs. Die algemene reël is dat hoe groter die potensiële opbrengs op ‘n belegging is, hoe groter ook die risiko dat jy geld kan verloor met die belegging. Die teendeel is ook waar: hoe kleiner die opbrengs, hoe kleiner die risiko en hoe veiliger sal jou geld wees.

‘n Saak wat verwant is aan die risiko-teenoor-opbrengsbeginsel, is jou persoonlike risikotoleransie. Indien jy ‘n lae risikotoleransie het (d.w.s. jy hou nie daarvan om kanse te vat met jou geld nie), behoort jy beleggings met ‘n laer risiko te oorweeg en tevrede wees met laer opbrengste.

As jy gemaklik is om risiko’s te neem met jou geld, d.w.s. as jy risikotolerant is, kan jy beleggings met hoër potensiële risiko’s en hoër verwagte opbrengste oorweeg.

Die tweede faktor wat oorweeg moet word is jou ouderdom. Sou jy ‘n deel of die geheel van jou belegging verloor, sal jy genoeg tyd hê om van die verlies te herstel? Hoe ouer jy is, hoe minder tyd sal jy hê om te herstel en dan moet jy daaraan dink om liefs beleggings met ‘n laer risiko, wat laer maar bestendiger opbrengste lewer as beleggings met ‘n hoër risiko, te kies.

‘n Derde faktor is hoe die kostes verbonde aan verskillende beleggingsopsies die opbrengs op elke belegging sal beïnvloed. Kostes sluit in uitgawes soos transaksiefooie, en belasting op beleggingsinkomste (bv. rente, dividende en huurgeld) wat jy ontvang. Onthou om die waarde te bereken van tyd en energie wat jy sal moet bestee om die belegging te bestuur, byvoorbeeld met die verhuring van ‘n eiendom.

Beleggingsmoontlikhede

Die eerste belegging wat ‘n persoon behoort te maak is om ‘n kontant-noodfonds op te bou. Die doel van so ‘n noodfonds is om fondse beskikbaar te hê vir onvoorsiene gebeurtenisse sodat jy nie skuld hoef aan te gaan om te oorleef nie. Jou noodfonds behoort geen beleggingsrisiko te dra nie en moet onmiddellik beskikbaar wees wanneer jy dit nodig het. Enige beleggingsopbrengs op ‘n noodfonds, soos rente wat verdien word, is ‘n bonus.

Ander kontantbeleggingsopsies is vaste deposito’s en geldmarkrekenings. In hierdie gevalle is onmiddellike toegang tot fondse nie so belangrik nie en kan jy oorweging skenk aan langer beleggingstydperke met beter opbrengste as wat jou noodfonds lewer. Gewoonlik is hierdie beleggings veilig vir sover dit jou kapitaalbelegging betref. Weens die verminderde beleggingsrisiko sal gemiddelde opbrengste laer wees as met hoër-risikobeleggings soos aandele.

Belegging in aandele bied heelwat ruimte om met risiko en opbrengs te speel. Aandelebeleggings is ‘n opsie vir beleggers met alle vlakke van risikotoleransie omdat die risiko van aandele kan wissel van baie laag tot baie hoog, afhangende van watter aandele in belê word. Geld wat in aandele belê word is nie te enige tyd toeganklik nie. As mens aandele wil verkoop, wil jy graag wag totdat die aandeelprys hoog genoeg is om ‘n goeie wins te maak. Die beleggingstydperk vir aandele is dus normaalweg langer as vir kontantbeleggings.

Die waarde van eiendomme en huurinkomste hou gewoonlik tred met, en oortref dikwels, inflasie. Verhuringskostes kan teen huurinkomste afgetrek word om belasting te verminder. Hou egter in gedagte dat ‘n direkte belegging in eiendom, bv. ‘n residensiële eiendom wat gekoop word om te verhuur, nie altyd ‘n passiewe belegging gaan wees nie aangesien jy waarskynlik by tye betrokke sal moet raak by die bestuur van die verhuringseiendom.

Daar is nie ‘n “een-grootte-pas-almal”-resep wat gebruik kan word om ‘n belegging te kies nie. Omdat niemand die toekoms kan voorspel nie, is beleggings altyd maar ietwat van ‘n dobbelspel.

Bronnelys

Geraadpleeg op 9 September 2015:

http://aanblog.visitrek.net/wp/2015/10/28/understanding-the-fundamentals-makes-investing-easier/

Geraadpleeg op 18 November 2015:

 http://www.absa.co.za/Absacoza/Individual/Saving

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)