DTVDH

Anders as ander maande, handel hierdie nuusbrief nie oor ’n tegniese aspek wat u moontlik reeds in u besigheid teëgekom het nie. Hierdie maand  oorweeg ons die vraag wat waarskynlik in meeste belastingpligtiges se gedagtes bestaan ná die aanbevelings van die Davis Tax Committee (DTC) rakende die toekoms van trustbelasting, naamlik: Moet ek my trust-strukture nou verander? Die nuusbrief kan nie noodwendig ’n antwoord op hierdie vraag bied nie, maar gee wel ’n oorsig van die voorstelle en redes daarvoor asook die risiko indien daar oorhaastige veranderinge gemaak sou word.

Agtergrond tot die kwessie 

Trusts en die belastingimplikasies van hierdie instrumente besorg al vir ’n aantal jare kopsere vir die SAID. Hierdie bekommernisse strek van die gebruik van trusts deur korporatiewe belastingpligtiges vir aandeelaansporingskemas tot instrumente vir boedel- belastingbeplanning deur individue met ’n hoë netto waarde. As gevolg hiervan is die hersiening van die trustbelastingstelsel al ’n paar keer  voorgestel sonder dat daar veel wysigings aan die wetgewing gevolg het. Gedurende Julie 2015 het die DTC die konsep-verslag met aanbevelings oor boedelbelasting en trusts vir openbare kommentaar vrygestel met die aanduiding dat hierdie verandering vroeg in 2016 geïmplementeer behoort te word. Hierdie aanbevelings  het veroorsaak dat heelwat belastingpligtiges vrae het oor die pad vorentoe met bestaande trust-strukture.

Oorsig van die aanbevelings

Die DTC se aanbevelings rakende welvaartbelasting behels ’n verbetering van die bestaande maatreëls (boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting) eerder as die instelling van ’n nuwe kapitaaloordrag- of ander welvaartbelasting.

Dit lyk asof die primêre tema van die voorstelle is dat die bydrae van boedelbelasting en invordering van kapitaalwinsbelasting beide sal baat deur ’n verbetering van die trustbelastingstelsel. Die voorgestelde veranderinge aan die trustbelasting- stelsel is gebaseer op die beginsel dat ’n trust belas behoort te word op die inkomste wat daaraan toeval. Daar behoort geen geleentheid te wees om die belastingaanspreeklikheid na ’n begunstigde oor te skuif wat teen ’n laer koers belas kan word nie. Soortgelyk hieraan behoort daar nie ’n geleentheid te bestaan om die belastingaanspreeklikheid van die trust te allokeer na die persoon wat die bates aan die trust geskenk het of op ’n rente-vrye lening verkoop het nie. In baie gevalle het hierdie persoon oor die bate beskik juis met die doel om minder boedelbelasting te betaal. Die bepalings van artikel 7 vereis dat hierdie inkomste deur sulke bates gegenereer in die hande van die skenker teen sy of haar belastingkoers eerder as die trust se 41% belas word. Bykomend hiertoe, kan die skenker die verdere voordeel kry wanneer hy op trust- inkomste belas word dat sy boedel effektiewelik krimp tot voordeel van die waarde van bates wat in die trust toeneem. Dit is teenstrydig met die doel van artikel 7.

Die verwydering van die uitkeringsbepalings sal effektiewelik beteken dat die inkomste verdien deur ’n trust teen die vaste koers van 41% belas sal word terwyl kapitaalwinste op die beskikking van bates teen ’n koers van 27,3% belas word. Dit lyk asof die DTC van mening is dat belastingpligtiges die keuse moet maak om bedrae teen hierdie koerse te belas, maar dit dan van hulle boedels kan uitsluit, of alternatiewelik eerder groei binne die boedel te hou en teen moontlike laer koerse (veral op kapitaalwinste) belas te word. Die argument behels dat hierdie keuse mettertyd sommige belastingpligtiges sal oortuig om bates in hulle eie hande te hou en sodanig die invordering van boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting by afsterwe sal bevorder.

Buiten die bogenoemde veranderinge aan trustbelasting, is die volgende sommige van die hoofaanbevelings (slegs hooftrekke daarvan) wat boedelbeplanning in die toekoms kan raak:

  • Die vrystelling van boedelbelasting vir nalatings aan gades behoort geskrap te word of tot ’n sekere maksimum bedrag beperk te word;
  • Soortgelyk hieraan behoort die vrystelling op skenkings aan gades in plek te bly maar beperk te word om oordrag van aandele en eiendom uit te sluit; en
  • Die vrystelling van skenking met die doel om sekere persone te onderhou, is te wyd en moet beperk word tot sekere onkostes in verband met sodanige

Gevare van oorhaastige veranderinge

Die DTC het nog net aanbevelings gemaak. Alhoewel die konsepverslag voorstel dat implementering vroeg in 2016 moet plaasvind, lyk dit hoogs onwaarskynlik aangesien geen wysigings in die 2015-begroting aangekondig is nie en dit ook nie verskyn in die 2015 voorgestelde wetswysigings wat in Julie 2015 vrygestel is nie. Die dui daarop dat die wysigings moontlik eers in 2017 in werking kan tree, maar daar is geen waarborge hiervoor nie. Belastingpligtiges moet bewus  wees van die feit dat meeste pogings om bestaande trust-strukture te ontbondel tot wesenlike kapitaalwins en ander oordragsbelastings kan aanleiding gee, sonder dat daar noodwendig kontantvloei realiseer waaruit hierdie aanspreeklikheid gedelg kan word.

Ter afsluiting

Dit kan goeie raad aan belastingpligtiges wees om te wag om te sien wat die detail wysigings is, of daar oorgangsverligting beskikbaar gestel gaan word asook om die opsies op daardie punt deeglik en ingelig te oorweeg. ’n Mens kan moontlik vind dat ’n trust- struktuur steeds ’n werkbare opsie is afhangend van die spesifieke omstandighede en behoeftes van ’n belastingpligtige. Dit sal egter raadsaam wees om gereeld met ons by Du Toit Van Den Heever Ing kontak te maak om ingelig te bly oor verwikkelinge in hierdie area en die effek van sulke verwikkelinge in elke belastingpligtige se spesifieke konteks te verstaan.

Bron: PvdZ Consulting (Edms) Bpk.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X