By die bepaling van die beste vergoedingspakket vir reisende werknemers, oorweeg Suid-Afrikaanse werkgewers en werknemers voortdurend die voordele van ’n reistoelaag, ’n vergoedende reistoelaag of albei. Vir hierdie doel word die werknemersbelasting (“LBS”) en inkomstebelastinggevolge van hierdie twee toelaes hieronder in meer besonderhede uiteengesit.
’n Reistoelaag is ’n toelaag wat deur die werkgewer aan die werknemer betaal word vir die gebruik van sy of haar private motorvoertuig vir die werkgewer se sakedoeleindes. Dit sluit in vaste reistoelaes, petrol-, motorhawe- en onderhoudskaarte.
’n Vergoedende reistoelaag is enige toelaag wat gebaseer is op die werklike afstand wat vir besigheidsdoeleindes gereis is en word gewoonlik deur die werkgewer aan die werknemer betaal deur die werklike besigheidskilometers gereis, te vermenigvuldig met ’n vaste tarief per kilometer.
Vir LBS-doeleindes moet 80% van die vaste reistoelaag by die werknemer se vergoeding ingesluit word. Hierdie persentasie word verminder tot 20% indien die werkgewer tevrede is dat ten minste 80% van die gebruik van die motorvoertuig in die belastingjaar, vir sakedoeleindes sal wees. Werknemers moet by wyse van ’n logboek rekord hou van die werklike afstand wat gedurende die jaar vir besigheidsdoeleindes gereis is. Die volle bedrag van die toelaag word op die IRP5 onder kode 3701 aangedui.
Wat betref die vergoedende reistoelaag is geen LBS betaalbaar op ’n toelaag wat deur ’n werkgewer aan ’n werknemer betaal word tot met die tarief van 361 sent per kilometer nie, ongeag die waarde van die voertuig. Die vergoeding hoef ook nie deur ’n logboek gestaaf te word nie maar is slegs tot die beskikking van ’n werknemer indien geen ander vorm van ’n toelaag of vergoeding (behalwe vir parkering of tolgeld) van die werkgewer ten opsigte van die voertuig ontvang word nie. Enige oortollige vergoedende gedeelte (meer as 361 sent per kilometer) is egter onderhewig aan LBS, net soos ’n vaste reistoelaag. Hierdie toelaag word by kodes 3702, 3722 en 3703 op die IRP5 aangetoon.
Vir inkomstebelastingdoeleindes sal die volle (100%) van die vaste reistoelaag, sowel as die belasbare vergoedende reistoelaag, bymekaar getel word met aanslag.
Die werknemer sal egter toegelaat word om werklike sakereiskostes te eis teen die reistoelaag (onderworpe aan sekere perke) en die gedeelte wat die eis oorskry, sal op aanslag belas word.
Waar geen werklike koste geëis word nie, verskaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ’n tabel wat brandstofkoste (per kilometer), instandhoudingskoste (per kilometer) en ’n vaste koste wat teen ’n reistoelaag geëis kan word, afhangende van die waarde van die voertuig, uiteensit. Geen brandstofkoste of instandhoudingskoste mag egter geëis word in gevalle waar die werknemer nie die volle brandstof of onderhoudskoste gedra het nie.
Hierdie artikel is ’n algemene inligtingsblad en moenie as professionele advies gebruik of vertrou word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings, of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).