Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) het onlangs outomatiese administratiewe boetes vir trusts ingestel, soortgelyk aan dié wat op individue en maatskappye gehef word.
In Maart het SARS ‘n kennisgewing uitgereik ingevolge die Tax Administration Act (TAA) wat dit toelaat om maandelikse boetes te hef vir versuim om die 2024- en 2025-belastingopgawes in te dien. Daar is grasietyd om uitstaande opgawes in te dien tot 4 Mei 2026. Dit verteenwoordig die eerste golf van outomatiese boetes wat trusts opgelê kan word.
Om volle nakoming te verseker, moet trusts, trust verteenwoordigers en hul belasting praktisyns alle uitstaande trust inkomstebelastingopgawes indien, trust inligting verifieer en opdateer by SARS, enige uitstaande belastingverpligtinge vereffen en verseker dat finansiële rekords akkuraat en volledig is.
Administratiewe boetes word outomaties opgelê op die geskatte belasbare inkomste en begin op minimum R250 (afhangende van die inkomste van die trust) per uitstaande opgawe per maand vir tot 36 maande of totdat die trustee die nie-nakoming regstel.
Al die uitstaande belastingopgawes moet ingedien word om toekomstige boetes te voorkom. Let daarop dat daar geen vrystelling bestaan vir dormante of onaktiewe trust nie. Alle trusts moet registreer by SARS en jaarlikse inkomstebelastingopgawes moet vir almal ingedien word. Daar bestaan geen vrystelling vir trust registrasies by SARS nie.
‘n Trust se belasting nakomings verpligtinge eindig eers wanneer dit formeel by SARS gederegistreer is. As ‘n trust by die Meester van die Hooggeregshof gederegistreer is moet ‘n formele deregistrasie proses daarna by SARS gevolg word. Dit sluit in die indiening van alle uitstaande belastingopgawes, die vereffening van enige uitstaande belastingverpligtinge en die voorsiening van ondersteunende dokumentasie wat die beëindiging van die trust bevestig.
Alhoewel alle redelike pogings aangewend word om die akkuraatheid van die inhoud van hierdie publikasie te verseker, sal nóg die skrywer van artikels nóg die uitgewer enige verantwoordelikheid dra vir die gevolge van enige aksies gebaseer op inligting of aanbevelings hierin nie. Die materiaal is vir inligtingsdoeleindes.