DTVDH

Terugwerkende wetgewing behels die Parlement se deurvoer van Wette wat die wetlike status of gevolge van handelinge wat reeds deur persone uitgevoer is, beïnvloed. In ‘n strafregtelike verband, byvoorbeeld, sou terugwerkende wetswysigings behels dat die Parlement ‘n wet deurvoer wat bepaal dat handelinge wat reeds deur ‘n individu uitgevoer is, onwettig mag wees met historiese effek, selfs al was die handeling, toe dit uitgevoer is, nie as strafregtelik beskou nie. ‘n Voorbeeld in die geval van inkomstebelasting sou wees as ‘n individu op 1 Junie ‘n dividend wat belastingvry is kragtens heersende wetgewing, ontvang, maar op 1 Julie aanvaar die Parlement ‘n Wysigingswet op die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, waarkragtens dividende ontvang sedert 1 Januarie van die betrokke jaar, geag word nie-vrygestelde inkomste te wees.

Hoe sodanige terugwerkende wetgewing geïnterpreteer behoort te word en of dit selfs grondwetlik is, was die tema van ‘n onlangse beslissing in die Noord-Gauteng Belastinghof in die saak Pienaar Brothers (Pty) Ltd v CSARS.[1] Die saak het gehandel oor ‘n belastingbetaler wat beoog het om ‘n amalgamasietransaksie, waarvoor voorsiening gemaak word in artikel 44 van die Wet op Inkomstebelasting, aan te gaan. Op 20 Februarie 2007 (op welke datum die amalgamasietransaksie nog nie aangegaan is nie) het die Minister van Finansies egter in sy Begrotingsrede aangekondig dat die Wet op Inkomstebelasting later daardie jaar gewysig sou word, maar met ingang van die datum van die aankondiging, ten einde sekere “tekortkominge” in artikel 44 aan te spreek. Die “tekortkominge” wat die Minister aangetoon het, het egter nie verband gehou met die hantering van belasting rakende die amalgamasietransaksie wat die belastingbetaler in die vooruitsig gestel het nie en die belastingbetaler het dus ná die Begrotingsrede van Maart daardie jaar, die voorgestelde amalgamasietransaksie aangegaan.

Tot verbasing van die belastingbetaler is daar in Junie daardie jaar wetgewing gepubliseer wat artikel 44 op ‘n verreikender manier sou wysig as wat die Minister vroeër aangekondig het. Soos egter vooraf gewaarsku is, moes die wetgewing steeds met terugwerkende krag ingevoer word, d.w.s. tot die datum van die vroeëre Begrotingsrede.  Dit het beteken dat die belastinggevolge van die amalgamasietransaksie wat die belastingbetaler reeds aangegaan het, met terugwerkende krag gewysig is, en gevolglik het ‘n betekenisvolle belastingverpligting van R3.7 miljoen ontstaan. Hierdie belastingverpligting het nie gespruit uit die belastingwetgewing soos dit daar uitgesien het ten tyde van die aangaan van die amalgamasietransaksie nie, maar as gevolg van die terugwerkende uitvaardiging van belastingwetgewing, was belasting nou verskuldig. Die verduidelikende memorandum by die wysigingswetsontwerp het die meer drastiese amendemente toegeskryf aan die noodsaak om ‘n geïdentifiseerde nuwe vorm van belastingvermyding die hoof te bied.

Die belastingbetaler het by die Noord-Gautengse Belastinghof appèl aangeteken teen die addisionele belasting op grond daarvan dat wetgewing kragtens ons reg nie met terugwerkende krag geïnterpreteer mag word nie, alternatiewelik dat die terugwerkende wysiging van die Wet op Inkomstebelasting ongrondwetlik is in die sin dat dit neerkom op die ontneming van eiendom.

Die appèl is op beide aanklagte van die hand gewys. Wat ‘n betekenisvolle rol gespeel het in die hof se beslissing was dat die Minister reeds in sy  Begrotingsrede vroeër die jaar ‘n waarskuwing gerig het oor ‘n naderende, terugwerkende wysiging van die Wet op Inkomstebelasting. (Die waarskuwing is weliswaar slegs in algemene terme  gestel en het nie melding gemaak van die besondere wysiging wat ingevoer sou word nie.) Regter Fabricius het in sy uitspraak gesê dat belastingbetalers nie ‘n geldige verwagting kan koester om op die konsekwentheid van belastingwetgewing staat te maak  nie, veral as die Nasionale Tesourie ingryp ten einde ‘n skuiwergat toe te stop wat andersins aanleiding kan gee tot voortdurende strooptogte op die fiskus.

Die voorgaande verteenwoordig ‘n betekenisvolle uitspraak en dit mag dalk nie die laaste woord oor die aangeleentheid wees nie. Daar is ‘n sterk moontlikheid dat die saak op appèl Bloemfontein toe geneem kan word. Ons sal met verloop van tyd verslag doen oor die uitkoms hiervan.

[1] (87760/2014) [2017] ZAGPPHC 231 (29 May 2017)

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X