Maatskappye verskaf heel dikwels rentevrye of laerente lenings aan ‘n direkteur. Dit manifesteer óf as ‘n ware aansporing of voordeel aan daardie direkteur (meestal die geval in groter korporatiewe omgewings) óf in klein besighede in die plek van salarisse wat verskuldig is. Laasgenoemde is veral die geval waar ‘n gade of familietrust die aandele besit in die maatskappy wat die familiebesigheid bestuur, maar welke besigheid bedryf word deur die pogings van die individu aan wie ‘n lening van tyd tot tyd toegestaan word.
In terme van die Sewende Skedule van die Wet op Inkomstebelasting1 word ‘n direkteur van ‘n maatskappy ook as ‘n “werknemer” beskou. Dit is betekenisvol, aangesien direkteure hiervolgens ook gebind kan wees deur die byvoordeel-belasting wat oor die algemeen op werknemers van toepassing is.
Paragraaf (i) van die definisie van “bruto inkomste” in die Wet op Inkomstebelasting3 sluit spesifiek as bedrag onderhewig aan inkomstebelasting in “die kontant-ekwivalent, soos vasgestel deur die bepalings van die Sewende Skedule, van die waarde tydens die jaar van aanslag van enige voordeel … toegestaan in terme van ‘n aanstelling of aan enige ampsdraer …”
Dit is duidelik dat voordele ontvang deur ‘n direkteur van ’n maatskappy dus as belasbaar beskou word in terme van hierdie bepaling. Die vraag bly egter of lenings wat aan sodanige direkteure verskaf word deur die maatskappye waar hul in hierdie hoedanigheid dien as sodanige belasbare voordeel beskou sal word, en ook hoe sodanige voordeel gekwantifiseer sal word.
Paragraaf 2(f) van die Sewende Skedule is ondubbelsinnig in sy benadering dat ‘n belasbare byvoordeel bestaan waar “… skuld … deur die werknemer [lees direkteur] aangegaan is, of dit nou ten gunste van die werkgewer of ten gunste van enige ander persoon is per ooreenkoms met die werkgewer of enige ander geassosieerde instelling wat aan die werkgewer verbind is, en of:
(i) geen rente deur die werknemer betaalbaar is in terme van sodanige skuld nie; of
(ii) rente deur die werknemer betaalbaar is in terme van ‘n koers laer as die amptelike rentekoers …”
Paragraaf 11 het weer ten doel om die bedrag van die belasbare byvoordeel wat by die bruto inkomste van die direkteur ingesluit word, te kwantifiseer. Die belasbare byvoordeel sal basies gelykstaande wees aan die hoeveelheid rente wat betaalbaar sou wees op die lening teen 2.5% rente laer as die prima rentekoers, minus enige rente wat werklik op die lening betaal is. Die voordeel ontstaan dus nie alleenlik op rentevrye lenings nie, maar ook op lenings wat rente dra teen minder as die voorgeskrewe rentekoers.
Dit is belangrik om daarop te let dat ‘n byvoordeel wat andersins ontstaan nie ‘n belasbare voordeel is indien die leningsbedrag minder as R3 000 is, of indien dit aan die direkteur geleen word om sy/haar studies te bevorder nie.
1 58 van 1962
2 Paragraaf 1 van die Sewende Skedule, paragraaf (g) van die definisie van “werknemer”
3 Sien afdeling 1
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)