DTVDH

Sit jy? Kom ons deel ‘n skrikwekkende statistiek met jou. In ‘n verslag wat FinFind in November 2020 gepubliseer het, is daar bevind dat 42,7% van klein sakeondernemings in Suid-Afrika gedwing is om gedurende die eerste 5 volle maande van die nasionale inperking te sluit.

Die navorsingsdata bestaan uit ‘n opname van 1489 besighede regoor alle hoofsektore van die ekonomie, en moet dus verstaan word as ‘n monster van die groter ekonomie eerder as ‘n absolute feit. Nietemin, om te dink dat ongeveer 4 uit elke 10 klein ondernemings in hierdie tyd gesluit het, is kommerwekkend.

Die redes vir hierdie sluitings is veelvoudig, maar aan die einde van die dag kom dit neer op die beskikbaarheid van befondsing en kontantvloei wat eenvoudig net nie verduur het deur die harde inperkingsmaande nie. Ons weet ook dat sommige bedrywe baie swaarder getref is — soos in die geval van die skoonheids- en gasvryheidsbedrywe.

Kontantvloeibestuur is een van die belangrikste dele van die bestuur van ‘n suksesvolle onderneming. Maar om kontantvloei te hê gaan oor meer as om voorbereid te wees vir die volgende pandemie (hoewel dit beslis sal help). Selfs gedurende die beste tye is die ekonomie wisselvallig en hoogs onvoorspelbaar. Jy moet dus kan verseker dat jou besigheid gereed is vir ‘n paar slegte maande (en dan verkieslik vir die opeenvolgende maand of twee) om langtermynsukses te verseker.

Hier is net ‘n paar maniere waarop jy jou kontantvloei kan verbeter en verseker dat ‘n hobbel in die pad nie tot jou ondergang sal lei nie:

  1. Skep en bly binne jou begroting

Die Engelse gesegde gaan, “If you fail to plan, you plan to fail” – luister na hierdie raad. Sonder ‘n behoorlike begroting skep jy reeds vir jouself ‘n uiterste nadeel. Praat met jou finansiële adviseur oor die skep van ‘n akkurate en realistiese begroting.

  1. Verminder kleiner uitgawes en bokoste soos nodig

Alhoewel dit aanloklik kan wees om jou hoofuitgawes te sny, oorweeg eers elke individuele bestedingsarea. As jy besteding moet besnoei om kontantvloei te verbeter, begin met die dinge waarsonder jy kan gaan voordat jy veranderinge aan jou personeel maak.

  1. Faktureer sodra jy kan

Baie besighede betaal elke maand al hul rekeninge op ‘n vasgestelde tyd — as jy nie dadelik faktureer nie, kan jý die rede wees waarom jou betaling en besteebare inkomste vertraag word. Sodra jy ‘n diens gelewer het of ‘n produk verkoop het, stuur dadelik ‘n faktuur.

  1. Verhoog jou pryse

Veral as jou besigheid klaar gevestig is en jy lae pryse gebruik as ‘n manier om kliënte te lok, kan jy nie vir jare aaneen nie dieselfde pryse vra nie. Maak wel seker dat jy die oorgang na hoër pryse aan jou lojaalste kliënte verduidelik en stel hulle gerus dat dit ‘n sakebesluit is wat hulle op die ou end sal bevoordeel.

  1. Oorweeg dit om met ‘n houerooreenkoms te werk

Veral in die geval van ‘n diensgebaseerde onderneming kan die betaling van houerfooie (voorafbetalings vir werk om nog gelewer te word) ‘n betroubare vloei van inkomste verskaf wat sal verseker dat jou besigheid nie inkomste verloor tydens stil maande nie. Maak net seker dat jy wel die diens kan lewer wanneer die kliënt gereed is om die geld wat bestee is, te benut.

  1. Evalueer jou voorraad

Daar is niks wat jou kontantvloei meer terug kan hou as om ’n swak balans van voorraad te hê nie. Kyk na die voorraad wat nie verkoop nie en oorweeg dit om hierdie items af te merk om van hierdie ‘vasgevangde’ bates ontslae te raak. Voorraadopname is egter nie eksklusief tot produkte nie. As jy dienste aanbied wat nie benut word nie, mag jou beste koers wees om op te hou om die tyd en moeite daarin te belê en sodoende nie méér hulpbronne in doodloopstrate te investeer nie.

  1. Aanvaar kredietkaarte

As jy kredietkaarte aanvaar verbeter dit die kanse op aankope en word jy blootgestel tot minder slegte skuld, aangesien jou betaling nie op die kliënt staatmaak nie. Hou in gedagte dat ‘n fooi aan die kredietkaartmaatskappy betaal moet word vir elke aankoop, wat wel as ‘n nadeel gesien kan word.

  1. Versoek geld vooraf

Vir groter projekte en verkope van hoër waarde, oorweeg dit om ‘n voorafbetaling met gereelde paaiemente daarna te vra om te verseker dat jy nie ‘n kontantvloeitekort het weens vertraagde betaling of kwessies rakende hoëwaardetransaksies nie.

  1. Ondersoek jou voorsieningsketting

Miskien betaal jy te veel in jou voorsieningsketting, so oorweeg jou verkopers noukeurig — sommiges mag selfs oorweeg om jou te voorsien van ‘n beter ooreenkoms gebaseer op jou lojaliteit of ‘n grootmaat aankope. Sommige verkopers kan eenvoudig te veel vra en daar kan geskikte alternatiewe wees waar jy jou besteding kan verminder en kontantvloei kan verbeter.

  1. Praat met jou finansiële adviseur

Besluite oor die verbetering van kontantvloei moet nie ligtelik geneem word nie, veral omdat kontantvloei en geldbestuur die sentrale enjin van enige onderneming is. Praat altyd met jou finansiële adviseur wat jou unieke insigte en spesialisadvies kan gee gebaseer op jou besigheid se behoeftes en omstandighede.

Verwysings:

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X